6 Desember 2023
Die parlement het sy goedkeuring gegee dat die EFF-leier, Julius Malema, en vyf van sy medepartylede vir een maand sonder betaling geskors word.
Hulle is skuldig bevind aan minagting van die Parlement nadat hulle die verhoog bestorm het tydens president Cyril Ramaphosa se staatsrede in Februarie.
Die skorsing – van 1 Februarie tot 29 Februarie aanstaande jaar – beteken dat dié ses nie volgende jaar die staatsrede kan bywoon nie.
Tydens ‘n laatnag sitting – wat op sy eie in chaos gedompel was – het die Nasionale Vergadering die verslag van die Komitee vir Magte en Voorregte aanvaar – wat uitvoering gee aan die sanksies, wat saamgestel is na ‘n ondersoek oor die betrokke LP’s se optrede.
Alle partye – met die uitsondering van die EFF – het ten gunste daarvan gestem om Malema, die onderleier, Floyd Shivambu, die sekretaris-generaal Marshall Dlamini, en die senior lede, Vuyani Pambo, Mbuyiseni Ndlozi en Sinawo Thambo, te skors.
Die verslag het ook aanbeveel dat die ses lede Ramaphosa en die vergadering om verskoning vra.
Foto: The Citizen