19 Oktober 2023
Die EFF-leier Julius Malema en sy medebeskuldigde, die lyfwag Adriaan Snyman, se aansoek om ontslag na aanleiding van aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapen-wet het in die streekhof in Oos-Londen misluk.
Die aanklaagte spruit uit ’n voorval in Julie 2018 toe Malema na bewering ’n vuurwapen voor ’n skare EFF-ondersteuners in die openbaar afgevuur het.
AfriForum het strafregtelike klagte teen die twee ingedien nadat die video aan die lig gekom het.
Die woordvoerder van gemeenskapsveiligheid by die burgerregteorganisasie, Jacques Broodryk het die uitspraak verwelkom. Hy meen Malema en Snyman se aansoek was in die eerste plek verregaande.
Malema het na afloop van die saak sy ondersteuners toegespreek. Hy het in reaksie gesê dat hy nie bang is vir enige staatsaanklaer, landdros, president of enige ander persoon nie. Hy het ook gesê dat die ANC nié 2024 se verkiesing sal wen nie.