Nuuskommentaar: 15 Junie 2022
Deur: Jaco Kleynhans
Die eerste ronde van Frankryk se parlementêre verkiesing het Sondag plaasgevind. Slegs 47,5% van Franse kiesers, ‘n historiese laagtepunt, het die moeite gedoen om te gaan stem. ‘n Koalisie van ekstreem-linkse partye het byna 26% van die stemme in die eerste ronde gewen terwyl die koalisie van President Emmanuel Macron skaars 0,1% meer stemme kon wen. Die regse politikus Marine Le Pen se party het na haar sterk tweede posisie in die presidentsverkiesing vroeër vanjaar tot slegs 18% teruggesak met baie regse kiesers wat sodanig deur die politieke stelsel uitgesluit voel dat hulle tuis gebly het.
Die ekstreem-linkse politikus Jean-Luc Mélenchon het vroeër vanjaar tydens die eerste ronde van die presidentsverkiesing derde geëindig met 22% van die stemme nadat Macron 28% en Le Pen 23% gewen het. Sedertdien het Mélenchon ‘n koalisie van linkse partye insluitende Frankryk se Kommunistiese Party, die Groenparty en die Sosialiste, bymekaar gebring om saam kandidate in die parlementêre verkiesing te stel.
Mélenchon was vir lank ‘n randfiguur in Franse politiek maar met die verlies aan steun vir die sentrumlinkse Sosialiste het hy die afgelope tyd opspraak gemaak met sy voorstelle om inkomstebelasting op ryk Franse tot 100% te verhoog, die aftree-ouderdom na 60 te verlaag en die welsynstaat dramaties uit te brei. Mélenchon is ook teen Navo gekant en is nie gemaklik met Frankryk se klaarblyklike onderdanigheid aan die Europese Unie in sommige beleidsaangeleenthede nie.
President Macron is vroeër vanjaar ten spyte van sy ongewildheid tot ‘n tweede termyn teen Le Pen verkies. Macron is ten gunste van verskeie ekonomiese hervormings ten einde Frankryk se mededingendheid in Europa te verbeter. Hy wil die aftree-ouderdom van 62 tot 65 verhoog en het reeds die afgelope vyf jaar belasting verlaag. Macron is ook sterk ten gunste van groter integrasie in Europa deur middel van die Europese Unie.
Frankryk het een van die grootste immigrante-bevolkings in Europa en Mélenchon geniet wye steun onder immigrante omdat hy ten gunste van meer regte vir immigrante, selfs onwettige immigrante is.
Die Franse parlementêre verkiesing vind oor twee rondes plaas. Eerskomende Sondag vind die tweede ronde plaas. Die hele land is in kiesafdelings opgedeel en ‘n kandidaat moet meer as 50% van die stemme, en meer as 25% van geregistreerde kiesers se stemme, in die eerste ronde wen om ‘n tweede ronde te vermy. Sou geen kandidaat in die eerste ronde meer as 50% van die stemme wen nie, dring al die kandidate wat meer as 12,5% van die stemme gewen het deur na die tweede ronde. In die tweede ronde is die wenner die kandidaat wat eerste geëindig.
Hoewel ons eers teen eerskomende Sondagaand sal weet hoe die samestelling van die Franse parlement vir die volgende vyf jaar gaan lyk, is die kiesstelsel wel so ontwerp dat ‘n sentristiese party, soos dié van Macron bevoordeel word. Dit lyk egter of Macron se meerderheid in die volgende parlement baie kleiner gaan wees. Hy mag dalk selfs sy meerderheid heeltemal verloor.
Wat egter duidelik uit die verkiesing tot dusver is, is dat ‘n meerderheid van Franse kiesers vervreemd voel van die politieke stelsel. Terwyl kiesers vir populistiese linkse en regse kandidate stem, bly ‘n meerderheid tuis. Dit voorspel niks goed vir demokrasie en politieke stabiliteit in Frankryk en Europa nie.