22 Januarie 2024
President Cyril Ramaphosa doen ‘n beroep op sakeondernemings om meer jong mense aan te stel en – waar moontlik – met die vereiste van vorige werkservaring weg te doen.
Ramaphosa het die matriekklas van 2023 wéér geloof na aanleiding van die 82,9% slaagsyfer.
Hy sê in Suid-Afrika se 30ste jaar van demokrasie, toon dié slaagsyfer die vordering wat gemaak is om onderrig nie net meer toeganklik nie, maar ook meer gelyk te maak.
Hy het in sy nuusbrief vroeër vandag ook na die klas van 2023 se nuwe rekord – in vergeleke met tien jaar gelede – verwys.
Volgens Ramaphosa is daar ook bestendige vordering gemaak om sekondêre en naskoolse uitkomste te verbeter. Die president sê ‘n goeie matriekpunt gaan oor soveel meer as net prestasie, of die werwing van ‘n kwalifikasie, maar is ‘n geleentheid om uit armoede te kom.
Alhoewel Ramaphosa die hele matriekgroep gelukgewens het, sê hy kinders wat uit moeilike omstandighede kom, gestremdhede het of boeties en sussie moet grootmaak, behoort soveel meer geluk gewens te word.
Hy het weer ‘n beroep op sakeondernemings gedoen om vir jongmense ‘n kans te gee. “Om vir ‘n jongmens ‘n geleentheid te gee om voltyds te werk, gee jy as te ware vir daardie kind die geleentheid om die sirkel van armoede te verbreek.”
This year marks 30 years since South Africa became a democracy with equal rights, dignity and freedoms for all. The achievements of last year’s matriculants show the progress we have made not only in making education more accessible, but also in making it more equal.… pic.twitter.com/LIsyHSDqxs
— Cyril Ramaphosa 🇿🇦 (@CyrilRamaphosa) January 22, 2024