25 Oktober 2023
Die moedermaatskappy van Instagram en Facebook – Meta – word deur 42 Amerikaanse deelstate gedagvaar.
Dit volg na bewerings dat hy dié sosiale media-platforms doelbewus verslawend vir gebruikers gemaak het. Meta word verder daarvan beskuldig dat hy die publiek herhaaldelik oor die gevare van sy platforms mislei het.
Daar word ook aangevoer dat die maatskappy se platforms met kwessies soos depressie, angs, slapeloosheid, die ontwrigting van onderrig en die daaglikse lewe en verskeie ander negatiewe uitkomste verbind word.
Dit gebeur volgens die aanklaers deur middel van algoritmes, aanhoudende kennisgewings en ‘n sogenaamde nimmereindigende blaaifunksie.
Meta is glo teleurgesteld met die hofsaak.