Nuuskommentaar: 30 Oktober 2021
Deur: Willie Spies
Maandag stem Suid-Afrikaners vir nuwe munisipale rade landswyd. Dit is die sesde landswye munisipale verkiesing sedert 1994.
Dis die eerste keer in die geskiedenis dat ‘n algemene verkiesing in Suid-Afrika op ‘n Maandag plaasvind en die versoeking is groot om van die naweek ‘n langnaweek te maak. Mense wil ontvlug van alles wat ons die afgelope twintig maande in Suid-Afrika moes ontbeer om nie eens te praat van die 21 jaar sedert nuwe munispaliteite op 5 Desember 2000 tot stand gekom het en sedertdien deur korrupte ANC-kaders ten gronde gerig is nie.
Vyf sake van besondere belang moet in gedagte gehou moet word met die groot dag wat op hande is.
Eerstens, is hierdie verkiesing die een waarop die ANC die swakste ooit voorberei was. Nog nooit sedert 1994 het die ANC so swak en onbeholpe in ‘n verkiesing ingegaan as nou nie. Kandidaatlyste was nie gereed nie. Personeel het gestaak. Plakkate is yl besaai en het in baie gevalle eers ‘n week of twee voor die verkiesing hulle verskyning gemaak. Ontevrede ANC-lede en takke het openlik in opstand gekom teen nominasies en verskeie kandidate, sittende raadslede en ander ampsdraers is in aanloop tot die verkiesing vermoor. Lae stempersentasies in ANC-gebiede en hoë persentasies in die voorstede, kan die uitslag wesenlik beïnvloed.
Tweedens, is hierdie verkiesing ‘n toets vir demokrasie en die grondwetlike bestel. Met ‘n ANC wat hopeloos onvoorbereid, skrikwekkend korrup en geheel en al onsuksesvol was in regering, sou die party in ‘n normale demokratiese verkiesing moes gereed maak vir die grootste loesing denkbaar. Nogtans voorspel meeste meningspeilings vir die ANC ‘n stewige voorsprong en word die party se steun geraam op tussen 47% en 56%. Die vraag is of ons werklik nog ‘n demokrasie is en of die verkiesing nie die tekortkominge van ‘n gewone meerderheidsbestel in ‘n diverse staat, die grootte van die hele Wes-Europa, finaal gaan ontbloot nie.
Derdens, is hierdie verkiesing ‘n bepalende toets vir die DA. Die party het steun verloor in verskeie tussenverkiesings en is nog besig met ‘n heropbouproses na die skade wat deur Mmusi Maimane en verskeie van sy adviseurs aangerig is met hul strategie om die DA as ‘n “ANC-light” te posisioneer. Die party het baie hard gewerk in Stellenbosch om Afrikaans as onderrigtaal te steun, en in Kwa-Zulu Natal selfs geëksperimenteer met plakkate waarin vigilante optrede teen die plundering en onrus ondersteun is. Met ‘n uiteenlopende kieserskorps waarin een segment se kos die ander segment se gif is, sal ons egter teen Dinsdag weet of die heropbou proses van die DA ‘n sukses was.
Vierdens, is dit die verkiesing waarin die “kleiner partye”, groot wil (en dalk gaan) word. ‘n Belangrike deel van die DA se suksesresep teen ander opposisiepartye sedert 2004, was die etikettering van sy opponente as “klein partye” wat “stemme verdeel en die ANC help”. Hierdie resep was tot dusver heel suksesvol, maar het veral in 2019 se algemene verkiesing die wind van voor gekry toe die VF Plus in verskeie konserwatiewe dorpe in die Noorde van die land, die groter alternatief van die twee geraak het.
Laastens, sal Suid-Afrika Dinsdag nog steeds daar wees met al sy probleme, ongeag wat Maandag gebeur. Kragtekorte, misdaad, vuil water, slaggate in die paaie, werkloosheid en armoede gaan steeds daar wees en harde werk verg van die hele burgerlike samelewing om op te los. Om egter jou stem te gaan uitbring, selfs al is dit laatmiddag Maandag (na die langnaweek) is ‘n noodsaaklike afspraak met die toekoms.
Stem vir die Aitsa’s