28 April 2022
‘n Ma van Ballito, in KwaZulu-Natal, het vandag vlugtig in die KwaDukuza-landdroshof verskyn op aanklag van moord.
Dit volg nadat sy na bewering haar 4-jarige dogter Dinsdag in ‘n emmer vol water verdrink het en daarna haar eie lewe probeer neem het.
Die polisie van die die Umhlali-omgewing het die 45-jarige vrou en haar oorlede kleuterdogter in hul woning in Ellis Place, Ballito aangetref.
Die ma het glo aan die polisie gesê dat sy besluit het om haar kind in ‘n emmer vol water te verdrink omdat die kind moeilik was en haar gepla het. Die dogtertjie is op die toneel dood verklaar.
Die vrou bly in polisieaanhouding tot haar volgende hofverskyning op 5 Mei.