3 Junie 2021
‘n Oos-Kaapse ma van ‘n pasgebore tweeling en nog twee verdagtes sal Maandag in die Uitenhage-landdroshof verskyn nadat die ma na bewering haar babas probeer verkoop het.
Volgens die polisiewoordvoerder, kaptein Yolisa Mgolodela het die polisie gister inligting ontvang dat die tweelingdogtertjies (5 dae oud) se ma hulle probeer verkoop het. Teen die tyd wat die polisie die inligting opgevolg het, het die ma glo reeds die babas aan die voornemende koper oorhandig.
Hy sê die “koper” moes glo R50 per dag aan die babas se ma betaal sodat sy haar daggagewoonte kon volhou.
Mgolodela sê die babas is by die “koper” se huis in Uitenhage gevind, waarna dié persoon in hegtenis geneem is. Die ma en nog ‘n persoon is daarna vasgetrek.
Die babas is in die hospitaal opgeneem omdat hulle uiters ondervoed en ontwater was.