17 Julie 2023
Daleen Oppel, die weduwee van die 41-jarige Nino Oppel wat in 2018 doodgery is terwyl hy vir ‘n fietswedren geoefen het, sê sy is teleurgesteld met die vonnis wat die man verantwoordelik vir Nino se dood, opgelê is.
Die 24-jarige, Ruvan Olivier is aan strafbare manslag skuldig bevind – vyf jaar nadat hy Oppel naby die Cradlestone-winkelsentrum in Johannesburg getref, en weggery het. Hy was toe 19 jaar oud en op pad huis toe ná ‘n aand uit saam met vriende toe die ongeluk omstreeks 05:00 op 24 Februarie 2018 plaasgevind het.
Olivier is op 1 Maart 2018 in hegtenis geneem. Hy is die afgelope week in die Krugersdorp-streekhof ingevolge ‘n pleit-en-vonnisooreenkoms ‘n opgeskorte vonnis van vyf jaar opgelê.
Hy moet egter drie jaar in huisarres deurbring, en aan Oppel se weduwee ‘n maandelikse bedrag betaal.
Daleen het in ‘n onderhoud met James Kemp gesê dat Olivier baie lig daarvan afgekom het. Sy sê dit was ‘n lang uitgerekte proses, en meen die uiteinde is nie waarvoor sy en haar gesin gehoop het nie.
Volgens haar is dié saak net weer ‘n bewyse van die mislukte polisie- en regstelsel in Suid-Afrika. Nino sou kort na die ongeluk aan die Berg-en-Dale fietswedren deelneem, en het spesiaal dele van sy fiets pienk laat maak vir sy dogtertjies. Hulle is nou 9- en 14 jaar oud.
