19 Mei 2023
Die voormalige uitvoerende hoof van Eskom, André de Ruyter het die week weer vir groot opslae gesorg, nadat sy boek Truth to Power – My Three Years Inside Eskom, Sondag op die winkelrakke verskyn het.
Die minister van openbare ondernemings Pravin Gordhan het vroeër die week in die parlement uitgevaar teen De Ruyter, oor die uitlatings wat hy gemaak het in sy TV-onderhoud in Februarie, maar ook in die boek.
Die Eskom-raad stel ook ondersoek in en meen daar was vertrouensbreuk omdat vertroulike Eskom-inligting in die boek gepubliseer is. Die boek het ook soos ’n veldbrand versprei op kletsplatforms en sosiale media, met roofkopieë wat wyd en syd gedeel is.
Marida Fitzpatrick, die opdraggewende redakteur van De Ruyter se boek, wat deur Penguin Random House uitgegee is het in Klankkoerant-laatmiddag met Anton Meijer gesels. Volgens haar werk hulle al twee jaar aan die boek.
“Mense dink die boek is vinnig aanmekaar gesit toe De Ruyter in Maart by Eskom weg is, maar dit is glad nie die geval nie.” Sy sê die boek se bedoeling was nié om enige persoon se karakter aan te val nie.
