28 Junie 2023
Twee skaapskeerders van die Protea-span, wat Suid-Afrika die afgelope naweek in ‘n belangrike, internasionale kompetisie verteenwoordig het, het onderskeidelik ‘n eerste en tweede plek behaal.

Die 42-jarige, Zwelamakhosi Mbuweni en die 37-jarige Bonile Rabela van Victoria-Wes het op 25 Junie aan die Golden Shears-wêreldkampioenskap vir handskeer in Skotland deelgeneem.
Suid-Afrika is sedert 1996 die wêreldkampioene – ‘n titel wat hulle net tydelik in 2019 moes opgee toe Nieu-Seeland gewen het. Dit is die eerste keer wat die kompetisie sedert 2019 aangebied word weens die Covid-19-pandemie.
Die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Skaapskeerfederasie, Herman Archer sê handskeer is ‘n kuns en ‘n vaardigheid. Volgens hom gebruik talle mense nog hierdie tegniek veral in afgeleë plekke waar daar geen krag is nie.
Klankkoerant Landbou se aanbieder, Jake Stols het met Archer gesels.
