19 Augustus 2022
Die pa van die 23-jarige Ashley Oosthuizen, wat tans gevangenisstraf in Thailand uitdien, sê hulle gaan appél aanteken teen ‘n beslissing wat gister gemaak is.
Oosthuizen is in Oktober 2020 in hegtenis geneem nadat sy by ‘n restaurant, waar sy as kelnerin gewerk het onwetend geteken het vir ‘n pakkie waarin daar dwelms was. Die pakkie was bedoel vir haar kêrel.
Haar appélaansoek is Woensdag aangehoor, waartydens daar besluit is om haar vonnis na 33 jaar te verminder.
Haar pa André Oosthuizen het tydens ‘n onderhoud met Jaco Versfeld op Klankkoerant gesê dat hulle ‘n advokaat aangestel het om die saak verder te voer.
Hy verduidelik dat die wet intussen in Thailand verander het, wat beteken lewenslank is nou ‘n gevangenisstraf van 25 jaar, maar omdat Ashley gevonnis is voor die verandering van die wet, beteken haar aanvanklike vonnis dat sy agter tralies sou moes wees tot haar dood.