17 Maart 2023
Ná president Cyril Ramaphosa tydens sy onlangse staatsrede aangekondig het dat ‘n belastingvoordeel van R15 000 beskikbaar gaan wees vir diegene met sonpanele, het rolspelers in die hernubare-energiebedryf gevoel dat dit nodig is om munisipale amptenare op te lei om aansoeke vir son- en windkrag te verwerk.

Die nie-winsgewendeorganisasie, Sustainable Energy Africa, die Solar Training Centre en ander rolspelers het die week ‘n kursus van vyf dae lank by die Innovation Hub in Pretoria aangebied om munispale amptenare van verskeie munisipaliteite se beplanningsafdelings op te lei vir die toename in aansoeke wat metros en munisipaliteite waarskynlik gaan ontvang.
Volgens die fasiliteerder- en instrukteur, Faure van Schalkwyk verbonde aan die Solar Training Centre word hierdie spesifieke kursus twee keer ‘n jaar in Pretoria en Kaapstad aangebied en word amptenare van alle munisipaliteite genader om daaraan deel te neem.
Josh Dippenaar, ‘n projekbestuurder verbonde aan die nie-winsgewende organisasie Sustainable Energy Africa sê diegene wat die kursus bygewoon het, het al die nodige gereedskap om aansoeke te kan verwerk en meen sy organisasie sal ook amptenare verder ondersteun.
Hy sê aansoek-program word vir die spesifieke doel van hernubare-energie geskryf, wat nét so by hulle onderskeie munisipaliteite geïmplementeer kan word.
Luister hier na ‘n volledige verslag oor die kursus.