17 Maart 2023
Die 30-jarige Lize Erasmus van Hartbeespoort in Noordwes het mense aan’t gons oor haar interessante navorsing wat sy vir haar meestersgraad in veekunde by die Universiteit van Pretoria onderneem het.
Sy het haar twee liefdes, genaamd diere en musiek saamgevoeg en vir haar navorsing gefokus op die uitwerking wat klassieke musiek op koeie se melkproduksie het.
Nadat haar navorsingsuitslae in die vakjoernaal, Domestic Animal Endocrinology, gepubliseer is, sal suiwelboere dalk voortaan ’n geldjie afknyp vir luidsprekers in die voerkrale.
Volgens Erasmus bewys haar studie dat koeie rustiger is en meer melk produseer as daar klassieke musiek vir hulle gespeel word. Sy het dit vergelyk met koeie vir wie daar nie musiek gespeel is nie. Sy meen die gesondheid en welstand van melkkoeie hou direk verband met hoeveel melk hulle produseer.
Foto: South African Holstein – Karoo Live Exports