30 Maart 2023
‘n 6-jarige dogtertjie van Theresapark in die noorde van Pretoria het haar eie juweliersmaatskappy op die been gebring om ‘n “suurstofmasjien vir haar ouma te koop sodat sy weer alles saam met haar kan doen.”

Hailey Lindemann, ‘n graad 1-leerling aan die privaat skool, Arendsnes in Florauna se ma, Martie vertel dat “haar pop” ‘n bak met krale van haar ouma Lientjie van Niekerk ontdek het, en wou dadelik armbande begin maak het.
Volgens Martie was Hailey van plan om vir haarself ‘n tabletrekenaar te koop, maar toe sy een by iemand kry, het sy besluit dat dié juweliersmaatskappy se fondse aan haar ouma Lientjie moet gaan sodat sy ‘n makliker lewe kan hê.
“Ek en ouma sit soms ‘n handjie by, maar die meeste van die idees is Hailey se eie idees.”
Martie sê sy is vreeslik trots op Hailey en alles wat sy tot dusver bereik het. “Sy het so ‘n klein hartjie en wil almal graag help. Sy is sommer al klaar ‘n entrepreneur.”
Die masjien wat Hailey vir haar ouma wil koop, kos ongeveer R45 000. Martie is egter vol vertroue dat Hailey se deursettingsvermoë en kreatiwiteit haar ver sal bring. Die kleinding stal haar juwele Saterdag by haar heel eerste mark, die Blikkiesdorp Mark in Pretoria Noord uit.
Hailey sê sy genoeg geld vir haar ouma insamel wil sy sommer dadelik saam met haar ouma see toe gaan, omdat sy nog nooit by die see was nie.