30 Junie 2023
‘n Boervrou van Gordonsbaai in die Wes-Kaap, Corné Els het die liedjie: Hoe ry die boere, sit-sit so ter harte geneem en pak reeds sedert 19 Junie die 1 682 kilometer vanaf Gauteng na Klapmuts op ‘n trekker aan.

Els hoop on Saterdag, 1 Julie in Klapmuts aan te kom met haar 1964 Massey Ferguson-trekker nog in een stuk.
Die doel van die trekkertog is om geld in te samel sodat haar dogter, Marconette in Augustus in Switserland aan die Wêreldkampioenskap vir toutrek kan deelneem. Marconette is in die o.23-span in die kategorie vir spanne wat in totaal nie meer as 500 kg mag weeg nie.
Els wil minstens R100 per kilometer in samel om op die einde ‘n somtotaal van R160 000 te behaal. Sy het gister (29 Junie) met Esté Gross gesels kort nadat sy en die trekker veilig in Ceres aangekom het.
Sy pak vandag die nagenoeg 60 km na Worcester waarna sy môre die laaste 70 km van haar reis sal pak.

