31 Januarie 2024
“Die Menseregtekommissie moet kyk na die gebruik van die Vierkleur-vlag in die openbaar, en dit behoort as haatspraak verklaar te word.”

Dít was die mening van die EFF-lid, Carl Niehaus tydens ‘n debat vroeër vanmiddag tydens Klankkoerant-laatmiddag. Dit kom nadat die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola sy kommer uitgespreek het oor die vertoon van die Vierkleur-vlag buite die hof in Groblersdal.
Die Vierkleur is ’n vlag wat deur die ou boererepubliek van die Transvaal gebruik is. Lamola sê dié vlag verteenwoordig ’n era van kolonisering en apartheid, wat lank reeds verby is.

Die hoof van beleid by Solidariteit, Ernst Roets, wat ook aan die debat deelgeneem het sê die regering en ander partye soos die EFF misbruik gebeure soos die gebruik van die Vierkleur vir politieke gewin, eerder as om verantwoordelikheid te neem vir mislukkings binne die regering.
Lamola stel die vertoon van die Vierkleur gelyk aan die vertoon van die ou landsvlag, en sê dit moet nie verdra word nie.
Die departement van justisie en korrektiewe dienste sê hy sal ook die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie oor die vertoon van die Vierkleur nader.
Luister hieronder na die debat.