Lesufi se lugkastele


Luister nou

Volgende

Lesufi se lugkastele

Nuuskommentaar: 23 Februarie 2023

Deur: Johnell van Vollenhoven

Bou is fundamenteel vir vooruitgang. Of dit nou die oprig van infrastruktuur, geboue of die spreekwoordelike toekoms is, bou is broodnodig om stagnasie en verval teen te werk.

Maar, bou strek verder as dit. Deur die spreekwoordelike toekoms létterlik te bou, word hoop geskep. Met die daarstel van vooruitsigte wat werklikhede word en die implementering van stelsels wat werk, raak mense positief. Op sy beurt vuur dit ʼn onblusbare energie aan wat tot groter ontwikkeling en vooruitgang op alle gebiede lei.

Om ʼn toespraak aan te hoor oor hoe daar gebou gaan word, is dus veronderstel om so ʼn positiewe uitwerking tot gevolg te hê. Ongelukkig is dit so dat die meeste “bouers” in die politiek se woorde net lippediens ter wille van die eie ek is, en dit kom dus selde by die oprig van ʼn tydlose baken van hoop uit.

Mnr. Panyasa Lesufi, die Gautengse premier, het die afgelope week so ʼn toespraak gelewer. In die toespraak het hy beloftes gemaak oor die bou van skole, die installering van veiligheidstelsels en die aktiewe bekamping van misdaad, die oplos van beurtkrag en die stigting van ʼn staatsbank.

Op die oppervlak beskou, mag dit dalk na die hoekstene van ʼn wonderlike samelewing klink. Maar hierdie woorde is dié van ʼn uitgeslape politikus wat in sy termyn as Gautengse LUR van onderwys, juis die mandaat gehad het om skole te bou en besluit het om hom eerder op sy persoonlike vendetta teen Afrikaans en Afrikaanse skole toe te spits. Die paar maal wat hy wel ʼn skool gebou of verbeter het, was sy fokus op die installering van die nuutste tegnologie waarby niemand ʼn paar maande later kon baat vind nie omdat die skool intussen beroof en beskadig is – ʼn instrument wat net té herinner aan die hommeltuie en paniekknoppies.

Sy staatsbank en farmaseutiese maatskappy getuig ook van sy sentraliseringsideologie, soos sy aanlyn registrasiestelsel vir skole. Beheer – selfs wanneer hy met die maatskappye van sy keuse oor sonkrag en ander alternatiewe wil onderhandel. Van kleinskaalse privaat opwekking en die mag aan die landsburgers is daar geen sprake nie.

Dit sal interessant wees om te sien of mnr. Lesufi hierdie lugkasteel kan anker en ʼn toekoms daarvan kan maak. Dit is egter onwaarskynlik dat ʼn regering wat geken word aan sy onvermoë om doeltreffend te regeer, en eerder berug is vir sy misdade, die pyp sal rook, juis omdat sy fokus op voorsiening eerder as op werklike bemagtiging is.

Die regering se prerogatief moet eerder wees om gemeenskappe in staat te stel om op outonome wyse eienaarskap vir die uitdagings in daardie gemeenskap te aanvaar en om gemeenskappe dan, indien nodig, te lei om werkbare en volhoubare oplossings daarvoor te vind. Die regering moet die privaat sektor deur deregulering in staat stel om in te gryp en deur hul ekonomiese aktiwiteite op die basis van vraag en aanbod werk te skep.

Deur alleen die hulpbronne te verskaf of self die redding vir gemeenskappe te wees, sal groter afhanklikheid, eerder as groei, tot gevolg hê.

Mnr. Lesufi kan paaie laat bou. Hy kan elke mens met ʼn dak wat son kry aanspoor om krag op te wek en aan die stadsraad te verkoop. Hy kan sorg dat die infrastruktuur hiervoor voldoende is en hy kan die infrastruktuur vir watertoevoer opgradeer.

En mnr. Lesufi kan skole bou. Hy kan die skole laat oprig en inrig en dan kan hy doen wat die Skolewet vereis en die skole aan die gemeenskap oorhandig sodat hul kinders onderrig in hul moedertaal kan ontvang sodat hulle kan ontwikkel en leer om aan die einde van hul skoolloopbaan met die vaardighede toegerus te wees wat hulle in staat stel om verder te leer en te kan werk. Maar, om as die redder na vore te tree is nie die oplossing vir die probleem nie.

ʼn Toekoms word nie met woorde en futuristiese beloftes gebou nie. Dit word met geloofwaardigheid en daadwerklike optrede gebou. Dit bestaan nie uit lugkastele nie, maar uit baksteengeboue en definitiewe optrede. ʼn Toekoms word nie deur ʼn magsbehepte politikus opgerig en besit nie, maar deur gemeenskappe wat saam aan ʼn volhoubare toekoms bou.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

PADWAARDIG

SOE ondersoek OUTA se verslag oor bedrieglike padwaardige-sertifikate

WapensvirSAPD_17April2025

AfriForum oorhandig nuwe “wapens” aan polisieminister se lyfwagte

POLISIE2-1

10 000 speurders sluit by privaatsektor aan of bedank in die afgelope 9 jaar

NA Exterior

OUTA vra vir strenger regulering van voordele aan openbare ampsdraers

VAPE-1

DA nader gesondheidsdepartement oor tieners se gebruik van damptoestelle

Ander Nuus Artikels

Donald Trump
Nuuskommentaar: Die ANC se stryd teen Trump én realiteit
NWU
NWU sê hy bevind geen bewyse van sangoma-ritueel nie
ENOCH1-large
“Geen hofsaak sal BTW-verhoging keer nie”
PADWAARDIG
SOE ondersoek OUTA se verslag oor bedrieglike padwaardige-sertifikate
WapensvirSAPD_17April2025
AfriForum oorhandig nuwe “wapens” aan polisieminister se lyfwagte

Lesufi se lugkastele


Luister nou

Volgende