Nuuskommentaar: 16 Maart 2022
Deur: Joost Strydom
Die Oranjerivierprojek se hoofdoel was die ekonomiese ontwikkeling van die Oranjerivier en sy direkte omgewing. Destyds was die Oranjerivier nie-standhoudend, dié projek het dit verander. Die ontwikkeling van die grootste damme in die land het deel van hierdie projek uitgemaak, en reuse besproeiingsontwikkeling is hieruit ontsluit.
Daar was beplan vir ‘n opwekkingsvermoë van 177 000 kW hidro-elektrisiteit. Daar was verder ook beplan vir ‘n tonnel (Oranje-Visrivier) om water van die Gariepdam na die Groot-Visrivier oor te plaas.
Die projek is nooit volledig afgehandel (volgens die beplanning) nie. Nog ʼn dam, die suid-oewerkanaal en meer hidro-elektrisiteitkapasiteit was beplan.
Werk aan die Oranjerivierprojek het in 1962 begin. Die Gariepdam se koste (in daardie tyd) het
R80 miljoen beloop, Departement Waterwese het R94 miljoen aan die Vanderkloofdam bestee. Dié dam se konstruksie is vertraag as gevolg van finansiële redes.
Sou die projek voltooi word soos oorspronklik beplan is, sou daar, volgens ʼn landboukundige se berekening, potensiaal ontsluit word en sou Suid-Afrikaanse boere ongeveer 3 miljoen ton graan per jaar in die streek kon produseer. Die gedeeltelike voltooiing van die projek maak ongeveer een miljoen ton se jaarlikse produksie in die gebied moontlik.
Die Oranjerivierprojek het, ten spyte van die feit dat hy nooit sy volle potensiaal bereik het nie, ontsaglike positiewe ekonomiese gevolge vir Suid-Afrika gebring. Die projek kon ‘n selfs nog groter sukses gewees het, die geld was egter elders nodig vir infrastruktuur.
Grond gewen teenoor grond behou
Iemand spekuleer onlangs: die Grensoorlog het te duur geraak- daarom is die konstruksie aan die Oranjerivierprojek gestaak. Dit was in die regering se beleid om eerder ongelooflike duur infrastruktuur in ons buurlande te bou. Die koste van basisse, krygstuigontwikkeling, opleiding en meer was so astronomies groot dat die begroting daarheen geskuif moes word.
Of dit die hoofrede was dat die Oranjerivierprojek nie verder ontwikkel is nie, of nie, het min relevansie. Die eens gevreesde Suid-Afrikaans weermag se magtige basisse lê verlate in ons buurlande. Duisende tonne staal en beton wat ten duurste daar ‘belê’ is, word nou verteer deur die natuur en deur die plaaslike bevolking nonchalant beskou.
Die VSA het sedert 2002 $2 triljoen bestee aan die oorlog in Afghanistan. Dit is $300 miljoen daagliks. Elke dag. Vir twee dekades. Die basisse wat daar opgerig is, is groter as heelwat dorpe in Suid-Afrika. Die VSA se chaotiese onttrekking uit Afghanistan het basisse soos die ontsaglike Bagram Air Base, kwesbaar gelaat. Na die VSA se 20 jaar van oorlog het dit die Taliban ses weke geneem om die eens onverslaanbare Bagram oor te neem, en vir hulleself toe te eien.
Sou die mense van die Oekraïne met ʼn uitgerekte Guerrilla-oorlog begin, sal Poetin net soos die Suid-Afrikaners op die grens en die Amerikaners in Afghanistan, leer dat grond gewen, nie gelyk is aan grond behou nie.
Demografie is lotsbepalend.
“Demographics is destiny” is die bekende woorde van die Franse filosoof Auguste Comte.
Die demografiese samestelling van ʼn gebied bepaal die toekoms, of dit gemeet word aan finansies, aanwas, ouderdom, kultuur ensovoorts.
Net soos wat die demografiese samestelling van ons buurlande op die langtermyn die toets van tyd teen die SAW gewen het, die demografie van Afghanistan die toekoms van Afghanistan bepaal het, en die demografie van die Oekraïne oor tyd hulle toekoms sal bepaal, nétso sal Afrikaners se toekoms deur demografie bepaal word.
Infrastruktuur, of dit lugmagbasisse of ekonomiese sentrums is, wat gebou word waar die ontwikkelaar ʼn demografiese minderheid is, word die meerderheid se eiendom.
Afrikaners moet dit ook onthou.