6 Mei 2021
Die leerlingvlieënier, wat Maandag in ‘n helikopterongeluk in Durban dood is, se identiteit is ook bekend gemaak.
Richard Morgan is saam met sy vlieginstrukteur, die 24-jarige Derek Fitzgerald dood toe hulle Robinson R22-helikopter neergestort het en in die Umgeni-rivier naby die N2 beland het.
LEES OOK: HELIKOPTER STORT NEER NABY DURBAN

Albei was verbonde aan die Starlite Aviation Training Academy en was in Durban woonagtig.
Volgens inskrywings op Facebook was Morgan ‘n pa van vier kinders en het hy sy eerste solovlug in November voltooi.
Fitzgerald was in die Olive Tree-kerk in Durban se sanggroep en was in 2015 die kaptein van die Suid-Afrikaanse Onderwaterhokkie-span.
Die Starlite Aviation Training Academy het ook op sy Facebook-blad hulde aan beide mans gebring. Hulle het hul medelye met Morgan en Fitzgerald se naasbestaandes betuig en sê hul respekteer hulle privaatheid terwyl die Burgerlugvaartowerheid sy ondersoek afhandel.
Die woordvoerder van die BLO, Kabelo Ledwaba sê ‘n voorlopige verslag oor die ongeluk sal binne 30 dae uitgereik word.
