16 Mei 2023
Die DA wil weet hoekom die hoof van die leër, luitenant-generaal Lawrence Mbatha in Rusland is.
Die party sê Mbatha se besoek aan Rusland bewys weereens dat Suid-Afrika sy steun onbeskaamd aan Rusland toesê, en dat hy nie kan voorgee dat hy onverbonde staan in die oorlog met Oekraïne nie.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se woordvoerder, brig.genl Andries Mahapa het bevestig dat Mbatha in Rusland is, glo vir ’n bilaterale vergadering wat lank vooruit beplan was.
Volgens berigte in die Russiese media hou die besoek verwant met militêre samewerking en interaksie.
Die DA-LP en hoofwoordvoerder oor verdediging en militêre veterane, Kobus Marais sê die besoek benadruk die ANC se onsensitiwiteit. Hy meen as die Russiese media nie hieroor berig het nie, sou Suid-Afrikaners waarskynlik nié geweet het van die besoek nie.
