17 Oktober 2024
Die nuusdiens, Netwerk24 berig dat lede van mediese fondse verlede jaar tot soveel as R44-miljard uit hul eie sak moes betaal vir mediese koste wat nie deur hul fondse gedek is nie.
Volgens die hoof van beleid, navorsing en monitering van die Raad op Mediese Skemas, (RMS) dr. Michael Willie, is die geouditeerde bedryfsyfers vir 2023 nog nie beskikbaar nie, maar word ’n verhoging van 8- tot 10% verwag op die vorige jaar se syfer.
In 2022 het dié bedrag op net onder die R40-miljard gestaan.
Willie het gereageer nadat die RMS se dr. Thandi Mabeba aan die Parlement se portefeuljekomitee oor gesondheid terugvoer gegee het oor dié raad se jongste jaarverslag.
In 2022 het die bedryf nagenoeg R232-miljard van sy lede ingesamel terwyl daar R198-miljard aan eise uitbetaal is.