Laataand

Weeksdae
22:00 - 24:00

Luister nou

Volgende

Le Pen en die vervolging van politici

Internasionale perspektief deur Jaco Kleynhans

Die uitspraak in ’n hof in Parys, Frankryk, vroeër hierdie week ingevolge waarvan die gewilde Franse politikus Marine le Pen, leier van die regse Nasionale Samekoms-party (“Rassemblement National”) vier jaar tronkstraf opgelê is (twee jaar is opgeskort en die ander twee jaar moet met ’n enkelmonitor uitgedien word), en verbied is om vir die volgende vyf jaar as kandidaat aan verkiesings deel te neem, het skokgolwe deur Frankryk, asook die hele Europa en selfs die VSA, gestuur.

 

In die VSA het die gematigde redakteurs van The Wall Street Journal in ’n hoofartikel na die uitspraak, maar veral die straf, as “Lawfare à la Francaise” verwys. Dié koerant het sy kiesers herinner aan die verregaande reeks hofsake nog so onlangs soos ’n jaar gelede teen Donald Trump – alles in ’n poging om hom te verhoed om weer tot president van die VSA verkies te word.

 

Dit is belangrik om die konteks van die saak teen Le Pen te verstaan. Le Pen was vanaf 2004 tot 2017 ’n lid van die Europese Unie se parlement. Weens die kiesafdelingstelsel in Frankryk kon haar party nie maklik setels in die Franse parlement wen nie. Hulle was egter die meeste van die tyd die grootste enkele Franse party in die Europese Unie-parlement, en het daarom hulle senior leierskap almal as kandidate vir die EU-verkiesings gestel.

 

Ten spyte daarvan dat Le Pen se party in 2017 (toe nog bekend as die Nasionale Front) meer as 13% van die stemme in ’n parlementêre verkiesing gewen het, kon hulle net agt van die 577 setels in die parlement wen. In 2018 het Le Pen egter haar party vernuwe en meer gematigde politieke standpunte ingeneem, en teen 2022 kon haar party 89 setels wen. Weens die versplintering van Franse politiek met meer en meer partye wat deelneem en weens die skerp toename in steun vir die Nasionale Samekoms-party, kon Le Pen self in 2017 ’n kiesafdelingsetel in Hénin-Beaumont, ’n redelik arm, werkersklasdorp van 26 000 mense in Frankryk se voormalige industriële hartland, wen. Sy het dus vanaf die EU-parlement na die Franse parlement verhuis.

 

Tydens Le Pen se termyn in die EU-parlement, het sy en haar party egter heelwat organisasiewerk vanuit hulle EU-kantoor gedoen. Dit is waarvoor sy dan ook die afgelope drie jaar in ’n lang en uitgerekte ondersoek en hofsaak vervolg is. Volgens die ondersoekende nuusblad Money het 139 EU-parlementslede van verskeie lande en politieke partye tussen 2019 en 2022 dieselfde fout as Le Pen begaan.

 

Daar word algemeen aanvaar dat selfs baie meer parlementslede voor 2019, toe Le Pen in die EU-parlement gedien het, dieselfde oortreding begaan het. Lede van die EU-parlement ontvang toelaes om personeel aan te stel, te reis en hulle werk te doen. Daar is egter ’n swak gedefinieerde, grys area oor waar die grens tussen werk as EU-parlementslid en as verteenwoordiger van jou party in jou land getrek kan word. EU-parlementslede bly verteenwoordigers van hulle onderskeie partye in hulle tuislande, en dit was nog altyd moeilik om te bepaal wat EU-werk is en wat die werk van jou party in jou eie land is.

 

Waar howe al in die verlede bevind het dat EU-parlementslede toelaes vir werk in hulle eie lande misbruik het, moes hulle dikwels bloot net dié geld terugbetaal. Le Pen se vier jaar tronkstraf en ’n bepaling dat sy vir vyf jaar nie weer as ’n kandidaat mag staan nie, selfs nie in die Franse parlementsverkiesing nie, is verregaande en ruik na politieke vervolging en misbruik van die regstelsel. Dit kom ook neer op die selektiewe toepassing van EU-reëls omdat baie ander EU-parlementslede afkomstig uit Frankryk nie op dieselfde wyse vervolg is nie.

 

Die saak teen Le Pen en haar vonnis kan nie in isolasie gesien word nie. Daar is duidelike parallelle met die regstryd in 2023 en verlede jaar teen Donald Trump. Nog ’n meer ekstreme voorbeeld is die wyse waarop Călin Georgescu, die gewildste presidentskandidaat in Roemenië, verhoed is om volgende maand aan ’n nuwe verkiesing deel te neem nadat sy eerste oorwinning verlede jaar op grond van gefabriseerde redes ongeldig verklaar is.

 

Nog voorbeelde is die huidige regsproses teen Jair Bolsonaro in Brasilië en die wyse waarop partye wat eerste of tweede in verkiesings in Nederland, België, Duitsland en Oostenryk geëindig het, óf uit die regeringskoalisies gesluit is, óf van topposte soos dié van eerste minister weerhou is.

 

Die ooreenkoms tussen Trump, Le Pen, Bolsonaro, Georgescu, Wilders (Nederland), Van Grieken (België), Kickl (Oostenryk) en Weidel (Duitsland) is dat hulle by uitstek antiglobalisties is. Hulle verteenwoordig die werkersklas en laer middelklas in hulle lande en is gekant teen internasionale handelsbeleid, die rol van internasionale organisasies, oorloë en al die elemente van globalisme wat in hulle lande die laer- en middelklas van politieke mag en ekonomiese beweegruimte gestroop het.

 

Die regstryd teen talle van hierdie leiers is slegs ’n onderdeel van die diepstaat en politieke elite se aanslag op die stem van hierdie groterwordende segment van kiesers. In Trump se geval, het alles vir hom positief uitgewerk, maar nie soseer vir die ander leiers nie. Dit kan egter oor die volgende paar jaar tot meer politieke konflik in baie van hierdie lande lei.

One Response

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

SABC Building in Aukland Park 02/08/05 pix robbie tshabalala

Taalraad eis ook nou antwoorde oor SABC-nuusbulletin

mcebisi-jonas-1500-800

Mcebisi Jonas aangestel as Ramaphosa se gesant na Amerika

Synthetic nicotine concept. Various disposable electronic cigarettes. modern alternative smoking, vaping and nicotine. Close up

Studie: Tieners toon al hoe meer ‘n afhanklikheid van damptoestelle

GoWjNLwWkAATPA2

Lugmag soek sy vliegtuigdeur

Julius-Malema6

“Trump wil G20-beraad misloop omdat hy homself verneder het met tariefverhogings,” meen Malema

Ander Nuus Artikels

Screenshot 2025-04-14 151010
Cadbury maak reuse sjokolade eier vir Paasfees
Brakfontein-substasie
Inwoners in dele van Centurion steeds sonder krag
UK
“R3,45-miljard vir diplomatieke diens is buitensporig,” sê ActionSA
SABC Building in Aukland Park 02/08/05 pix robbie tshabalala
Taalraad eis ook nou antwoorde oor SABC-nuusbulletin
mcebisi-jonas-1500-800
Mcebisi Jonas aangestel as Ramaphosa se gesant na Amerika

Laataand

Weeksdae
22:00 - 24:00

Luister nou

Volgende