5 Augustus 2024
Die Suid-Afrikaanse vrou wat in Nieu-Seeland skuldig bevind is aan die moord op haar drie kinders, Lauren Dickason, wil teen haar skuldigbevinding appelleer.

Die New Zealand Herald berig dat sy reeds verlede maand die appèlaansoek ingedien het.
Indien haar appèl slaag kan dit tot ‘n herverhoor lei. Die gronde vir die appèl is nog nie bekend nie.
Dickason is in Junie vanjaar tot 18 jaar gevangenisstraf gevonnis wat sy in ‘n inrigting vir geestesongestelde pasiënte moet begin uitdien. Sy kan moontlik later na ’n gevangenis verskuif word.
Sy is daaraan skuldig bevind dat sy haar drie dogtertjies, Liané (6), en die 2-jarige tweeling, Maya en Karla op 16 September 2021 vermoor het, kort nadat die gesin van Suid-Afrika na Timaru, Nieu-Seeland emigreer het.
Dickason het tydens die verhoor nooit ontken dat sy verantwoordelik was vir haar kinders se dood nie, maar het wel geargumenteer dat sy waansinnig was toe sy die dade gepleeg het.