3 Oktober 2023
Die 42-jarige Suid-Afrikaanse dokter, wat haar drie dogtertjies in Nieu-Seeland vermoor het, het ‘n brief vanuit die tronk geskryf waarin sy mense bedank vir hulle ondersteuning in die moeilike tyd.

Lauren Dickason is skuldig bevind nadat sy op 16 September 2021 haar 6-jarige dogter, Liané en die tweeling, Maya en Karla (2) vermoor het kort nadat die gesin na Timaru in Nieu-Seeland verhuis het.
Daar is ‘n Facebook-groep gestig met 1 500 lede vir mense wat Dickason ondersteun. Die brief is aan die groep gestuur nadat hulle vir haar ‘n pakkie gestuur het met lekkernye.
Dickason het nooit ontken dat sy haar kinders vermoor het nie, maar het wel aangevoer dat sy nie verantwoordbaar gehou kan word nie weens haar geestesgesondheidstoestande. Die hof het egter haar verweer verwerp.

Saam met die brief het sy ook ‘n foto van ‘n skildery met sonneblomme gestuur, asook ‘n foto van drie teddiebere. “Ek het hierdie skildery geverf om die dogtertjies se sterfdatum op 16 September te herdenk.” Die drie beertjies is gemaak van die kinders se kledingstukke en hulle name is daarop borduur.
“Ek slaap met die drie beertjies in die aande dan voel ek nader aan hulle.”
Sy word op 19 Desember vanjaar gevonnis.