30 Maart 2023
Die VF Plus se hoofsweep in die parlement, dr. Corné Mulder het pas sy 35ste jaar as parlementslid van die Suid-Afrikaanse Parlement gevier.

Mulder is op 29 Maart 1988 as lid van die Konserwatiewe Party as lid van die Volksraad in Randfontein verkies.
Hy het kort voor die oorwinnig in Randfontein egter eers die verkiesing vir die kiesafdeling Gezina verloor. Hierdie mylpaal maak Mulder nou die langs dienende parlementslid in Suid-Afrika.
Mulder het op sy Facebook-blad die 35 jaar ononderbroke diens as lid van die parlement as ‘n eer beskryf.

“Dit is vir my ‘n voorreg om oor al die jare, op my manier ‘n positiewe verskil te kon probeer maak in mense se lewens.” Hy meen hy sal nou doelgerig daarmee voortgaan.
“Ek wil opreg baie dankie sê aan my gesin, familie, kollegas, vriende en elkeen vir hulle hulp en ondersteuning oor al die jare. Nou saam vorentoe.”
Sy broer, Pieter Mulder is op 2 Maart 1988 as parlementslid ingehuldig.