Nuuskommentaar: 1 Maart 2022
Deur: Victor Correia
Waar presies moet die grenslyn tussen Rusland en Oekraïne getrek word? Sommige sal meen dat die grense tussen lande nooit geskuif kan word nie, maar as ‘n mens na die geskiedenis is landsgrense meer vloeibaar as wat ons mag dink.
Baie van die landsgrense in Afrika was in die vorige eeu nog nie op ‘n kaart aangebring nie. Tydens die Berlin konferensie in 1884 is Afrika vanuit ‘n Europa in stukke opgedeel. Sommige van die grenslyne is deur gemeenskappe getrek. Dit het in latere jare baie onstabiliteit veroorsaak. Daar is selfs etniese groepe wat weens die verskillende grense wat getrek is ‘n vyandige gesindheid teenoor mekaar ontwikkel het.
Wanneer landsgrense tussen gemeenskappe deur getrek word, lei dit tot skeiding van mense wat eeue tevore al saam geleef het. Dit skei mense wat eintlik by mekaar hoort. Sulke landsgrense hou in die reël nie lank nie. Baie van die grense het al weer geskuif.
Prof Danie Goosen het reeds in sy boek “Gemeenskap en plek” daarop gewys dat landsgrense eerder van onder na bo, as van bo na onder getrek behoort te word. Die kontoere van die grond en die gemeenskappe wat daar woon moet eerder bepaal hoe grense getrek word. Die geloofsoortuigings, taal en kultuur van gemeenskappe is ‘n baie meer volhoubare vorm van landsgrense.
Suid-Afrika is ‘n sprekende voorbeeld van hiervan. Die Unie van 1910 het grotendeels tot stand gekom op grond van die ekonomiese voordele wat dit sou inhou vir die ontwikkeling van die land. Vandag is Suid-Afrika se ekonomie onder druk. Daar kan ‘n dag kom waar verskeie gemeenskappe meen dat die voordele om deel van Suid-Afrika te bly nie meer opweeg teen die nadele daarvan nie.
Die dreigende oorlog tussen Oekraïne en Rusland en dalk ook meer lande behoort ons nie te verbly nie. Wat ons wel in gedagte moet hou is dat landsgrense elke dan en wan skuif. Daar is in Oekraïne ‘n etniese en linguistiese band met Rusland. Omtrent 20% van Oekraïne se mense praat Russies. Dit mag wees dat die grenslyne wat hier getrek word, in die toekoms anders mag uitsien.
Suid-Afrika se grense is ook verskuifbaar. Suid-Afrika is bestaan uit ‘n groepering van verskeie kulturele groepe wat verskillende geloofsoortuigings, gewoontes en geskiedenisse deel. Dit is nie onwaarskynlik dat toekomstige grense eerder op grond hiervan getrek kan word nie.
In die toekoms mag ons beleef dat die Wes-Kaap afskei, dat Zululand sy naam gestand doen en dat Afrikaners ‘n eie grondgebied deur eie arbeid verkry. Ons moet asb. nie een of ander wonder by die stembus verwag nie. Dit gaan harde werk kos.
Afrikaners hoef nie te wag vir politici om hul toekomstige grondgebied vir hul te gee nie. Nee, hul moet eerder konsentreer, vermeerder en daar wal hul woon en werk sterk en lewenskragtige gemeenskappe vorm. Grense word nie in die eerste plek bepaal deur regerings nie, maar deur die gemeenskappe wat daar woon en werk.