Oggend met Esté Gross

Sondae
08:00 - 15:00

Luister nou

Volgende

Lakse polisiëring en ligte straf skep chaos

Nuuskommentaar: 17 Junie 2022

Deur: Eugene Brink

Misdaad is een van die mees kontensieuse en hardnekkigste uitdagings waarmee tallose samelewings en veral sekere gemeenskappe en indiwidue te kampe het. Sonder veiligheid leef mense in konstante vrees, besighede kan nie werklik floreer nie en maatskaplike samehorigheid word ondermyn.

Dit is tewens so dat sekere sosio-maatskaplike faktore die vlakke van misdaad wedersyds beïnvloed. Armoede, ’n uitsigloosheid onder die jeug, swak dienslewering deur die staat, ’n lae onderwyspeil en dwelmmisbruik is almal simptome asook oorsake van allerlei soorte misdaad. Die probleem van misdaad verg dus ’n holistiese benadering en kan nie slegs tot polisiëring en die regswese beperk word nie.

Desnieteenstaande is hierdie elemente wel instrumentaal tot die geveg teen misdaad. Daar moet dus afskrikmiddels wees vir misdadigers terwyl aansporings ook dien om mense weg van misdaad te lok. Maar selfs lokmiddels alleen sal nie alle misdaad stop nie en dit is hoekom opportunistiese misdadigers moet besef dat daar gevolge sal wees indien hulle oortree en leed aan slagoffers veroorsaak.

Ongelukkig is dit meermale nie die geval nie. Die geval van Jaco Swart is slegs een onlangse saak waar die regstelsel sy slagoffers in die steek laat. Nadat hy sy gewese vrou pap geslaan en skuld beken het in die saak teen hom, is hy ’n boete van R20 000 en ’n opgeskorte vonnis opgelê. Dit het sedertdien rugbaar geword dat hy verskeie ander beweerde misdade, waaronder aanranding en bedrog, gepleeg het en nou iewers wegkruip. Ter strafversagting is daar aangevoer dat hy berou toon en berading ondergaan, terwyl daar etlike dae voor die uitspraak weer sake teen hom aanhangig gemaak is. Ondanks al die gewag wat daar oor geslagsgeweld gemaak word, het Swart se saak ’n bespotting daarvan gemaak.

Die onluste in Julie 2021 het die ondoeltreffendheid en laksheid van die polisie in KwaZulu-Natal treffend belig. Op talle plekke was die polisie heeltemal afwesig en selfs die gewapende gemeenskap gevra om hulle teen die oproeriges te beskerm. Indien die kwaadstokers wel aan die pen gery het, het die media nie in sulke sake belanggestel nie. Dit is hoogs onwaarskynlik. Sedertdien was daar weer talle gewelddadige onluste en gissings doen die rondte dat nog op pad is. 

Enkele maande gelede is die parlement in vlamme gehul en beskadig. ’n Verdagte is vasgetrek en aangekla, maar hoe het hy aanvanklik toegang tot die gebou verkry en dit boonop aan die brand gesteek? Die sloerende saak van Zandile Mafe sal dalk meer daaroor onthul as oor sy brandstigting.   

Daarbenewens word geharde plaasmoordenaars in baie gevalle effektiewelik slegs 15 jaar of minder opgelê nadat hul slagoffers van hul lewens ontneem is. Die saak teen die jong Brendin Horner op ’n plaas in die Vrystaat is selfs laat vaar te wyte aan swak speurwerk. Daar is nie genoeg ruimte om al die gebreke, onbevoegdheid en ongeregtigheid in ondersoeke en hofsake oor veral geweldsmisdaad in Suid-Afrika hier te dokumenteer nie. Dit is legio en skreeu ten hemele. Bowenal gee dit aan vrypostige misdadigers die groen lig om selfs meer en ongehoorde misdade te pleeg. Die uiteinde is dat Suid-Afrika oor een van die hoogste moordkoerse ter wêreld beskik en chaos heers.

Hierdie vloek is egter nie slegs tot lande in die Derde Wêreld beperk nie. Linkse deelstate in Amerika is tans besig om geweldsmisdade te beleef. In San Francisco in Kalifornië is misdadigers nou vrygestel van geringer misdade soos goedkoop winkeldiefstal. Misdadigers loop nou doodluiters in duur winkels in en steel nie slegs goedkoop goedere nie, maar buit ook duurder produkte ten aanskoue van die hulpelose wagte. In New York, Los Angeles, en Chicago word veral ouer mense gewetenloos aangerand terwyl die hele distrikte deur haweloses oorgeneem is. In Seattle lê spuitnaalde en dwelmpype oral rond en groot dele daarvan is onveilig vir gewone mense en hul kinders.

Dit hou als sterk verband met die verguising van die polisie oor sekere vergrype en die sogenaamde #DefundThePolice-veldtog. In Suid-Afrika is die polisie en regstelsel deur rasse-transformasie uitgehol, terwyl die politieke leierskap in hierdie sfere heeltemal ontbreek.    

Gelukkig is die publiek en gemeenskappe besig om weerstand hierteen te bied. In die uiters liberale San Francisco het kiesers van die vêrlinkse distrikslanddros, Chesa Boudin, ontslae geraak weens sy onwilligheid om streng teen allerlei misdade, soos straffelose rooftogte en aanrandings, op te tree. Mense gee ook bloot pad uit plekke soos Kalifornië en Chicago om eerder in Florida en Idaho te gaan bly.

Die gemeenskappe in KwaZulu-Natal het gewys hulle is die enigste en laaste bastion teen totale chaos. Elke dag ry vrywilligers regoor die land patrollie om hul woonbuurte, dorpe en strate te beskerm en veilig te hou. Die private veiligheidsbedryf in Suid-Afrika is veel groter as die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Ten regte of onregte is mense in Suid-Afrikaanse townships besig om die reg in eie hande te neem omdat die polisie, wat self dikwels by misdaad betrokke is, en howe hulle grof in die steek laat. Nie alle polisielede, aanklaers en regters is laks in hul werk nie, maar die stelsels en instellings waarbinne hulle moet funksioneer, is ’n reuse struikelblok wat uiteindelike straftoemeting betref. Totdat dit reggeruk word en selfs daarna, sal die burgery onsself toenemend moet beskerm

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

WAGWOORD

16-miljard Facebook, Google en Apple-wagwoorde lek uit

walter-sisulu-university

Amptenaar by universiteit doodgeskiet

CILLIERS5

Brink se hoed weer in die ring

Geld-1

Tweepot: 4-miljoen onttrekkings reeds gedoen

paul-kruger-gate-786x416-1

Nuuskommentaar – Mynbou: Die “roofdier” wat die Krugerwildtuin kan verskeur

Ander Nuus Artikels

NUUSWEEK WILLIE
Die storie van ou-dominee Sarel
NUUSWEEK JACO
Internasionale perspektief: Volgende week behoort aan Navo, maar…
Ilse Strauss
Suid-Afrikaner in Israel: Mense slaap in bomskuilings
WAGWOORD
16-miljard Facebook, Google en Apple-wagwoorde lek uit
walter-sisulu-university
Amptenaar by universiteit doodgeskiet

Oggend met Esté Gross

Sondae
08:00 - 15:00

Luister nou

Volgende