28 Mei 2023
Die lede van die onafhanklike paneel, wat die VSA se bewerings gaan ondersoek, se name is vanoggend deur die presidensie bekend gemaak.
Hierdie paneel moet ondersoek instel oor of Suid-Afrika wel wapens aan Rusland verskaf het deur gebruik te maak van die skip, Lady R wat in Desember in die hawe by Simonstad gesien is.
Amerika se ambassadeur na Suid-Afrika, Reuben Bridgety het die bewerings tydens ‘n mediakonfeerensie gemaak.
Die presidensie het vanoggend bevestig dat regter Phineas Mojapelo die voorsitter van die paneel sal wees, en sal deur advokaat Leah Gcabashe en Enver Surty bygestaan word.
President Cyril Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya sê die paneel moet binne ses weke sy ondersoek voltooi. Hulle moet ondermeer ondersoek wie bewus was van die skip se aankoms, en of hulle geweet het wat op die skip sou wees.
Volgens hom is die paneel saamgestel omdat die regering die bewerings in ‘n baie ernstige lig beskou. Hulle sal direk verslag moet doen aan Ramaphosa.
Foto: Asia Times
