Nuuskommentaar: 7 Julie 2022
Deur: Ernst Roets
Nie lank gelede nie het die nasionale polisiekommissaris voor die parlementêre portefeuljekomitee vir polisiëring verskyn om vrae oor die misdaadkrisis in Suid-Afrika te antwoord. Die kommissaris het toegegee dat die polisie nie in staat is om sy konstitusionele opdrag uit te voer nie en dat misdaad buite beheer is. Gewoonlik wanneer daar oor die misdaadkrisis en die polisie se rol in die bekamping daarvan gepraat word, word beweer dat hulpbronne ’n probleem is en dat die polisie nie genoeg geld het nie.
As ervaring in Suid-Afrika ons een ding oor hulpbronne geleer het, is dit dat om meer geld na ’n krisis te gooi nie noodwendig die oplossing is nie. Meer geld in die staat se hande beteken meer korrupsie en magsmisbruik. Die probleem is nie bloot hulpbronne nie, dit is onbeholpenheid, gebrek aan politieke wil en ’n misdaadkultuur wat selfs binne-in die polisie posgevat het. Planne word nie uitgevoer nie, misdaadverskynsels soos plaasmoorde word ontken, veroordeelde misdadigers in die polisie word nie ontslaan nie en politici gebruik eerder privaat sekuriteit om hulleself veilig te hou. Trouens daar is nou meer privaat sekuriteitsbeamptes in Suid-Afrika as die polisie en die weermag saam. Mens sou dink dat daar meer as genoeg rede vir die Minister van Polisie is om nederig en verleë te wees, maar die hoop beskaam.
Die regte ding vir die polisieminister om in hierdie omstandighede te doen is om kritiek ernstig te oorweeg, vennootskappe met die burgerlike samelewing aan te gaan en selfs om privaatsekuriteit te dereguleer sodat daar groter ruimte bestaan vir mense om hulleself veilig te hou. Maar minister Bheki Cele se optrede blyk presies die teenoorgestelde te wees. In die afgelope week het die minister ’n publieke vergadering in die Wes-Kaap toegespreek, waar ’n plaaslike burgerlike organisasie vir hom gevra het waarom hy nie die Wes-Kaapse regering genooi het om aan die gesprek deel te neem nie. Cele het woedend gereageer deur sy kritici daarvan te beskuldig dat hulle rassiste is wat dink dat hy, die minister, niks meer as ’n tuinwerker is nie. Die betrokke woordvoerder het beswaar aangeteken teen die bewering dat hy rassistiese motiewe koester, waarna die minister luidkeels vir hom geskree het om sy mond te hou en hom beveel het om die vergadering te verlaat. Hy is toe deur gewapende polisiebeamptes na buite begelei.
Hierdie lyk nie soos die gedrag van ’n polisieminister wat in beheer is nie, maar eerder soos die spreekwoordelike benoude kat wat benoude spronge maak. Dit is duidelik dat die misdaadkrisis buite beheer is. Dit is ook duidelik dat die regering nie die vermoë of die wil het om iets daaraan te doen nie. Dit maak die noodsaak van sterk gemeenskapsinstellings wat daarop toegespits is om na ons eie veiligheid om te sien soveel groter.