25 April 2022
Die provinsiale regering van KwaZulu-Natal sê sy aanvanklike kosteberaming van die skade wat hy gister bekend gemaak het – wat net duskant ‘n R 1 000 000 000 000 (‘n duisend miljard rand) beloop het – was ‘n eerlike fout.
Tydens ‘n mediakonferensie wat gister deur die premier, Sihle Zikalala, gelei is, is genoem dat die grootste skade by die Passasiersooragentskap, PRASA, aangemeld is en dat dáár alleen R940 000 000 000 (nege-honderd-en-veertig-miljard-rand) skade aangerig is.
LEES OOK: SKADE WEENS KZN-VLOEDE BELOOP MOONTLIK MEER AS R17-MILJARD
Volgens ‘n regstelling – wat laat gisteraand deur die provinsie gepubliser is – wil dit voorkom asof daar ‘n reusefout met die berekenings begaan is en dat die skade by PRASA sowat R955-miljoen beloop, en nie miljard soos aanvanklik berig is nie.
‘n Woordvoerder van die provinsie, Lennox Mabaso sê die langtermyn rehabilitasie van die spoornetwerk gaan ‘n bykomende R1,7-mljard kos.
Die geraamde monetêre skade in die provinsie is nou aangepas van R955-miljard na R17-miljard.