10 Maart 2023
’n Video wat wys hoe stakende gesondheidsorgwerkers ’n dokter met geweld uit ’n Mpumalanga-hospitaal verwyder, word wyd op sosiale media versprei.
In die video – wat ongeveer twee minute lank is – kan gesien word hoe stakers eis dat sy ‘n video uitvee wat sy van hulle optrede geneem het.
In die video kan gehoor word hoe sy hulle herhaaldelik daarop wys dat hulle nie toestemming het om op die perseel te wees nie terwyl haar aanvallers haar beledig en dreig.
Op ‘n stadium word gesien hoe die oproermakers haar bene gryp terwyl sy aan haar lessenaar vasklou.
Die stakers slaag later daarin om haar uit die kantoor te verwyder.
Intussen het die Demokratiese Verpleegorganisasie van Suid-Afrika, DENOSA, en die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, SAMA, intimidasie van – en geweld teen – gesondheidsorgwerkers wat nie aan die stakingsaksie deelneem nie, veroordeel.
SAMA se voorsitter, dr. Mvuyisi Mzukwa, sê terwyl hulle simpatie het met die stakende werkers, stem hulle nie saam met die stakers se optrede nie.