6 Junie 2022
Die Universiteit van Kaapstad (UCT) het die ontwrigtings tydens ‘n eksamen gistermiddag veroordeel, en sê dit skend studente se reg tot onderrig.
Dit kom nadat ‘n video aan die lig gekom het waarin individue deur die eksamenlokaal op UCT se bo-kampus beweeg en vraestelle van studente se lessenaars gooi. Volgens ‘n mediaverklaring deur die universiteit is die persone nié studente of werknemers van die universiteit nie.
Die studente is tans besig met hulle halfjaar eksamens.
UCT se waarnemende visekanselier, professor Sue Harrison sê ondersteuning word tans gebied aan die studente wat geraak is, en ‘n pad vorentoe sal nou bepaal word.
“Alle studente sal so gou moontlik ingelig word oor wanneer die eksamens weer geskeduleer sal word.” Harrison sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens is gekontak sodat eksamenlokale beveilig kan word vir die volgende eksamens wat afgelê moet word.
“Die bestuur van UCT het klagtes van betreding en opsetlike eiendombeskadiging aanhangig gemaak teen die betrokke persone.” Volgens Harrison is een persoon gistermiddag in hegtenis geneem.