28 Februarie 2022
Die saak teen die leier van die EFF, Julius Malema is in die Oos Londense landdroshof tot môre uitgestel.
Malema word daarvan aangekla dat hy na bewering ‘n vuurwapen in 2018 in die openbaar afgevuur het, tydens die EFF se verjaarsdagvieringe in Mdantsane. Die voorval is op ‘n video vasgevang.
Die Nasionale Vervolgingsgesag het tydens ‘n vorige hofverskyning gesê die vuurwapen wat Malema afgevuur het, is nié ‘n speelgoed geweer soos wat hy beweer het nie.
AfriForum se hoof van beleid en aksie, Ernst Roets sê die saak is uitgestel omdat die staatsaanklaer glo verlede week bedank het en dat die saak slegs vir een dag uitgestel is.
Roets sê Malema en sy veiligheidswag, Adriaan Snyman was beide in die hof teenwoordig. Snyman het glo die vuurwapen aan Malema oorhandig.