28 April 2022
Die regsverteenwoordiger van vier van die verdagtes in die Senzo Meyiwa-moordsaak, advokaat Dan Teffo is ‘n kort ruk gelede in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria in hegtenis geneem.
Dit kom kort nadat die regter die saak vir die dag uitgestel het. Teffo is vasgetrek nadat hy glo een van die vorige hofverskynings misgeloop het. ‘n Lid van Teffo se regspan het aan die media gesê dat daar glo ‘n lasbrief vir sy inhegtenisname was, wat nou bekragtig is.
Sy meen wat egter onregverdig is, is waar Teffo in hegtenis geneem is en hoe hy in hegtenis geneem is. Volgens die lid is dit onduidelik oor watter hofsaak hy vasgetrek is.
Terwyl polisiebeamptes boeie om hom gesit het, het Teffo aangevoer dat hy in hegtenis geneem is omdat die minister van polisie, Bheki Cele hom “nié op hierdie saak wil hê nie.”
Meyiwa, wat ten tyde van sy dood die kaptein van die Orlando Pirates en Bafana Bafana was, is in 2014 buite sy meisie se huis in Vosloorus vermoor.