24 November 2022
President Cyril Ramaphosa se besoek aan Engeland kom vandag tot ‘n einde.

Hy het gister met die Verenigde Koninkryk se nuwe eerste minister, Rishi Sunak in 10 Downing-straat in Londen vergader.
Ramaphosa en Sunak het onder meer handelsooreenkomste tussen die twee lande, beleggings en infrastruktuur bespreek.
Die president het gisteraand ‘n toespraak gelewer by ‘n ete wat deur die burgemeester van Londen aangebied is. Dit is een van die laaste amptelike byeenkomste voordat Ramaphosa Engeland verlaat.
Volgens Ramaphosa het die besoek op ‘n baie kritiese tyd gekom, terwyl talle lande steeds herstel na die Covid-19-pandemie. Hy meen nié net is talle mense dood nie, maar het die pandemie ook die krake in die wêreld se ekonomie en probleme met handelsooreenkomste, blootgelê.
Hy het ook verwys na die situasie tussen Rusland en Oekraïne en die uitwerking daarvan op voedsel- en brandstofpryse. Volgens Ramaphosa is Suid-Afrika steeds ‘n uitstekende geleentheid vir beleggers, ondanks die verskeie probleme.
Foto: Presidensie Twitter