11 Februarie 2022
President Cyril Ramaphosa sê die regering sal binne die volgende 100 dae met ‘n nuwe plan vorendag kom om die ekonomie te laat groei en armoede te beveg.
Ramaphosa het in sy staatsrede gisteraand erken dat die privaatsektor werk skep, en dat die regering net die omgewing moet skep vir die privaat sektor om te floreer.
Die president het veral ook klem gelê daarop dat burokratiese rondslomp verminder moet word, om dit makliker te maak vir ondernemings om besigheid te doen.
LEES OOK: STAATSREDE: “RAMPTOESTAND SAL EINDIG SODRA PANDEMIE OP ANDER MANIER HANTEER KAN WORD”
Intussen het opposisiepartye gemengde reaksie op die staatsrede gehad. Die DA leier John Steenhuisen het Ramaphosa se uitsprake oor die ekonomie verwelkom, maar sê dat Ramaphosa dalk te laat besef dat die regering nie werk skep nie.
Steenhuisen het egter benadruk dat dit steeds net ‘n toespraak is, en dat die regering nou moet oorgaan in aksie.
Ook die VF Plus leier dr. Pieter Groenewald sê Ramaphosa het wéér leë beloftes gemaak, en stel steeds die ANC bo Suid Afrika.
LEES OOK: WETSTOEPASSERS GEREED VIR VANAAND SE STAATSREDE
Hy sê indien Ramaphosa dapper was, sou hy kaderontplooiing en swart ekonomiese bemagtiging beëindig. Die EFF sê intussen Ramaphosa het geen plan gebied nie, en het eintlik opgegee om die land te regeer.