12 Desember 2024
Pretoria FM het die eerste oorwinning in sy regstryd behaal.
Pretoria FM het op 30 November ‘n Vasbyt-dag aangebied, waartydens die direksievoorsitter, Willie Spies en stasiebestuurder James Kemp ‘n marathon belsessie gehou het om te kyk wie die meeste debietorders vir die stasie kon werf.
Willie het gewen, en as sy prys kon hy James se hare afskeer.
Eenmalige skenkings is ook tydens Vasbyt gemaak. Dié geld saam met die maandelikse debietorders sal aangewend word vir Pretoria FM se regsfonds waarmee ‘n regstryd gevoer word om Pretoria op die lug te hou, en om die uitsaaigebiede uit te brei.
Pretoria FM het laat gisteraand, 11 Desember die nuus gekry dat hy sy eerste hekkie kon oorspring.
Willie Spies het aan Susan Botha in Klankkoerant gesê dat die hooggeregshof in Pretoria, die radiostasie se aansoek téén ‘n beslissing van die Onafhanklike Kommunikasie Owerheid (Okosa) aanvaar het, en het bevind dat die owerheid se diskwalifikasie van Pretoria FM se aansoek om sy uitsaaigebied uit te brei, onwettig was.
Die hooggeregshof sê Okosa se besluite oot ‘n moontlike uitbreiding moet hersien word, omdat die owerheid nie goeie redes aangevoer het vir die diskwalifikasie nie.
In sy aansoek wil hy ses nuwe frekwensies tot sy uitsaaigebied voeg. Hierdie frekwensies is vir Kalahari (Kuruman), Langkloof (Kouga Local Municipality), Outeniqua (George Local Municipality), Swartland (West Coast District Municipality), Tuinroete (Garden Route Local Municipality), en Witteberg (Bethlehem).
Spies sê die regstryd om die uitsaaigebied uit te brei is nog lank nie verby nie, maar hierdie is ‘n waardevolle, en belangrike eerste stap.