30 September 2023
Mense is moedeloos oor die eiertekort wat deur die landswye uitbreking van voëlgriep veroorsaak is.
Sowat 5-miljoen kommersiële lêhenne moes reeds sedert die begin van die jaar van kant gemaak word as voorsorgmaatreël. Die eiertekort raak veral mense soos bakkers en restaurante, wat beteken dat pryse verhoog moet word om by te hou met die stygende eierpryse.

‘n Bakker van Pretoria, Jaan-Mari Wichtmann sê dit gaan al hoe moeiliker raak om eiers in die hande te kry, en as sy eiers kry, is dit heelwat duurder as gewoonlik. Volgens haar beteken dit dat sy haar pryse wel sal moet verhoog om by te hou.
Michelle van Heerden van Luwanre Boerdery, verkoop elke Saterdag eiers op die bekende boeremark in Silverton. Hierdie eiers is afkomstig van die plaas.
Volgens haar was sy egter reeds genoodsaak om van haar henne van kant te maak as voorsorgmaatreël. Sy sê op ‘n gewone Saterdag is haar eiers teen omstreeks 08:00 uitverkoop, maar sedert die nuus oor die voëlgriep-uitbreking, is haar eiers al teen 06:00 uitverkoop.
Volgens Van Heerden kan sy egter tans nié eiers aan verbygaande besoekers van die boeremark verkoop nie, en is daar slegs genoeg eiers vir mense wat vooraf bestel het.

Woolworths. Foto: Mari Oosthuizen
Klankkoerant-verslaggewer, Mari Oosthuizen het gisteroggend (29 September) ‘n draai gaan maak by vier van die land se grootste kleinhandelaars. ‘n Bestuurder van ‘n Checkers in die ooste van Pretoria sê hulle is genoodsaak om die rakke van ses meter met brood op te vul omdat eiers uitverkoop word sodra dit uitgepak word.
Die beskikbare eiers wat Checkers tans ontvang, word vanaf die verspreidingsentrum opgedeel en dan onder die onderskeie takke versprei. Dit is egter heelwat minder voorraad as wat hulle gewoonlik ontvang. Volgens die bestuurder kos ‘n boks van 30 eiers nou R99,00 en nie meer R75,00 nie.
Volgens Woolworths kry hulle ook steeds eiers van hulle verskaffers, maar soos Checkers is dit té min. Die winkelgroep sê in ‘n kennisgewing by die eierrakke dat hulle vrylopende henne tans binne ‘n gebou aangehou om hulle te beskerm teen voëlgriep.

Checkers. Foto: Mari Oosthuizen
By Spar was die rak ook feitlik leeg met slegs ‘n enkele paar groot eiers wat steeds beskikbaar was. Soos die ander winkelgroep kan hulle nie voorbly met die vraag nie. Al ontvang hulle steeds eiers is dit te min vir die aantal kopers.
‘n Plaaslike Pick N Pay in Hillcrest se bestuurder sê dit was haar plig om die eiers direk van die verskaffer te bestel, maar nou word alle voorraad deur die verspreidingsentrum ontvang waarna dit aan die onderskeie winkels gestuur word.
Sy sê dit moet op hierdie manier gedoen word om te voorkom dat een winkel heelwat meer aankoop, wat ander Pick N Pay-takke dan sonder eiers laat.