16 Augustus 2022
Owerhede in die Chineese stad, Shanghai het die Ikea-winkel, met alle personeel en kliënte steeds in die winkel, gesluit na gerugte van ‘n moontlike Covid-19-geval aan die lig gekom het.
Inwoners van die stad is reeds in Maart vanjaar in ‘n grendelstaat geplaas nadat nuwe gevalle van die koronavirus aangemeld is.
Die BBC berig dat owerhede inligting ontvang het dat een van die klante in noue kontak was met ‘n Covid-19 positiewe pasiënt en wou daarom glo op inperking aandring.
Volgens die berig het chaos in die meubelwinkel ontstaan nadat ‘n aankondiging van die inperking gemaak is.
In videos wat op sosiale media geplaas is, kan gesien word hoe mense na die in- en uitgange storm om te probeer ontsnap.
Die adjunk-direkteur van Shanghai se Gesondheidskommissie, Zhao Dandan het Sondag tydens ‘n mediakonferensie gesê dat die persone, wat in die winkel was vir twee dae in ‘n afsonderlike gebou onder kwarantyn geplaas is, waarna hulle vir vyf dae elke dag vir die virus getoets moet word.
Dit is deel van die Shanghai plaaslike regering se géén Covid-19-strategie.