8 Julie 2021
Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga het in ‘n geskrewe antwoord op ’n parlementêre vraag van die DA bevestig dat Kubaanse vakspesialiste in wiskunde en wetenskap die afgelope vyf jaar teen ’n jaarlikse salaris van R733 257 elk aangestel is om “Suid-Afrikaanse onderwysers in dié vakke op te lei.”
Volgens haar is dit deel van ‘n samewerkingsooreenkoms tussen Suid-Afrika se regering en Kuba.
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) sê in reaksie hierop dat die Suid-Afrikaanse privaatsektor en meester-onderwysers uit eie geledere beter en meer bekostigbare oplossings kan bied vir uitdagings in die onderwyssektor.
“Belastinggeld wat ten duurste aan sogenaamde ‘Kubaanse kenners’ bestee word, is ʼn klap in die gesig van belastingbetalers en onderwysinstellings wat oor uitstekend gekwalifiseerde kenners beskik wat die plaaslike konteks, kultuur en unieke uitdagings van gemeenskappe ken,” sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS.
Hy sê Kuba neem nie deel aan internasionale beoordelingstoetse soos TIMSS (Trends in International Mathematics and Science Study) of PISA (Programme for International Student Assessment) nie en kan dus nie met ander lande soos Finland, Amerika of Singapoer vergelyk word nie.