1 Junie 2021
Die vakbond, Solidariteit het nuwe inligting oor die regering se ontplooiing van Kubaanse Ingenieurs bekend gemaak.
Dit het nou aan die lig gekom dat die Kubane werkskontrakte het en tot soveel as R 300 000 per maand meer as hulle Suid-Afrikaanse ampsgenote betaal word. Deel van hulle vergoeding is omvattende byvoordele wat vliegtuigkaartjies vir vakansie na Kuba, gemeubileerde verblyf, kos en telefoonkoste insluit.
Die bestuurshoof van Solidariteit, dr. Dirk Hermann sê dít is ondanks die feit dat die minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, in die openbaar gesê het dat die Kubaanse ingenieurs nié werknemers is nie en ook nie ʼn salaris gaan ontvang nie.
Nóg skok-onthullings is dat die Kubane volgens hulle werkskontrakte ingenieurswerk gaan doen – en nie net gaan raad gee soos die minister beweer het nie – terwyl hulle kwalifikasies nie plaaslik erken word nie.
Hermann meen dit wil ook voorkom asof dit die belastingbetaler R 11-miljoen méér uit die sak gaan jaag as die R 64-miljoen wat Sisulu bekend gemaak het.
Hermann sê die vakbond het nou genoeg inligting om die regstryd in alle erns mee voort te sit.