25 Julie 2022
Die leier van die DA, John Steenhuisen het vanoggend terugvoer gegee oor president Cyril Ramaphosa se vergadering met leiers van politieke partye waartydens voorstelle bespreek is te midde van Suid-Afrika se kragkrisis.
Steenhuisen sê die regering behoort op sy te staan om plek te maak vir bekwame mense, met die nodige wil om Eskom reg te ruk. Hy meen talle van die land se kragprobleme is veroorsaak deur die regering se wette en regulasies om dit vir ander mense moeilik te maak om krag op te wek.
Hy het namens die DA vyf onmiddellike stappe aangekondig, wat volgens hom nodig is om die kragsituasie te beredder, wat ook onmiddellik krag aan huishoudings sal verseker.
Vyf onmiddellike stappe:
- Steenhuisen sê die president behoort ‘n omheinde ramptoestand aan te kondig, nie ‘n noodtoestand nie omdat dit enige rompslomp sal uitskakel.
- ‘n Artikel 34-bepaling ingevolge die Wet op Elektrisiteitsregulering moet uitgereik word sodat munisipaliteite wat kan, hulle eie krag kan opwek.
- Die regulasies oor kleinskaalse sonkrag moet aangepas word.
- Steenhuisen meen verder die vereistes oor plaaslike inhoud vir kragverkryging moet opgeskort word.
- En, vereistes oor voorkeurverkryging behoort ook opgeskort te word.
Elf verdere medium-termyn ingrypings is ook aangekondig met die doel op die volhoubaarheid van Eskom.
Steenhuisen het verder die Kaapstad-metro se aankondiging verwelkom dat die metro nou kontant sal betaal vir oorskotelektrisiteit, wat deur nywerhede en ander kragopwekkers opgewek word en wat aan die kragnetwerk terugverkoop word, eerder as wat hulle bloot afslag kry op hulle kragrekening.
Hy sê die plan is om die vergunning ook na huishoudings uit te brei.
Wat die elf ander ingrypings behels, meen Steenhuisen op die langtermyn sal dit Eskom stabiliseer. (Buite Eskom)
6. Vorm ‘n nood-kommissie, wat bestaan uit spesialiste.
7. Dateer die geïntegreerde hulpbronplan van 2019 op.
8. Vestig ‘n onafhanklike stelselmarkoperateur.
9. Verkry verskeie nuwe kragbronne.
10. Stel die nodige strukture in om internasionale befondsing en finansiering te bestuur.
11. Belê in infrastruktuur opknapping.
12. Bou meer kragopgaarvermoë.
Binne Eskom:
13. Pak sabotasie binne die kragvoorsiener.
14. Stel ingenieurs aan en dank enige persone af wat nie hulle kant bring nie.
15. Verbeter infrastruktuur dringend.
16. Laastens stel die party voor dat alle Eskom kontrakte vir die voorsiening van steenkool, herbesin moet word.