Nuuskommentaar: 19 April 2023
Deur: Jaco Kleynhans
Soedan staan op die randjie van ʼn burgeroorlog. Ná byna twee jaar van ʼn militêre regering en internasionale pogings om Soedan weer op die pad na demokrasie te kry, het ʼn magtige militêre groep wat sedert 2013 telkens ʼn skrikbewind in dié land voer, Saterdag die wapen teen Soedan se selfs nog sterker weermag opgeneem. Oor die naweek is minstens 100 burgerlikes en honderde soldate in geweldpleging dood. Die gevegte het wyer as die hoofstad Kartoem uitgekring en hewige gevegte het teen Maandagoggend in Darfoer in die weste en Kassala in die ooste gewoed.
Toe die diktator Omar al-Basjir se beheer oor Soedan in 2019 ná drie dekades deur openbare opstand en met die hulp van Soedan se weermag en militêre groepe beëindig is, was daar wêreldwyd gehoop dat dié land uiteindelik in ʼn demokrasie omskep sou kon word. Binne vier maande nadat al-Basjir in April 2019 uit die kussings gelig en in die tronk gestop is, kon die weermag, die privaat militêre groep, bekend as die Rapid Support Forces (RSF) en pro-demokrasiegroepe tot ʼn vergelyk kom waarvolgens ʼn oorgangsregering, waarin die weermag en politieke groepe die mag sou deel, saamgestel is. Die bekwame ekonoom, Abdalla Hamdok, is as premier aangewys met die hoof van die weermag as die seremoniële staatshoof.
Die politieke oorgang in Soedan is wêreldwyd geloof en buitelandse hulp het ingestroom. Binne twee jaar, teen 2021, het die weermag egter ʼn staatsgreep uitgevoer en Hamdok is uit die kussings gelig. Sedert Soedan sy onafhanklikheid in 1956 gekry het, was die weermag deurgaans een van die belangrikste en sterkste rolspelers in dié land.
In die vroeë 2000’s is verskeie Janjaweed-milisiegroepe in veral die Darfoer-streek deur die militêre strateeg Mohamed Hamdan Dagalo verenig. Wrede menseregtevergrype is onder leiding van Dagalo in Darfoer gepleeg, met tot soveel as 300 000 burgerlikes wat deur sy magte om die lewe gebring is. Omar al-Basjir het Dagado en sy magte vrye teuels gegee en dié groep het hulself uit goudmyne en oorgrenshandel verryk. Teen 2013 het al-Basjir die milisiegroep as sy eie Rapid Support Forces geformaliseer.
Dagado het homself en sy magte egter bly verryk deur groot mynbougebiede oor te neem en verskeie etniese groepe te onderdruk. Teen 2019, toe die burgerlike protes in Kartoem uitgebreek het, het Dagado die kans aangegryp en ʼn reuse-rol gespeel om al-Basjir uit die kussings te lig.
Dieselfde Dagado en sy RSF, wat hulle in 2019 en weer in 2021 aan die kant van Soedan se weermag geskaar het, het die afgelope paar dae egter teen die weermag gedraai. Die een rede is dat hulle weier om by die weermag ingelyf te word. Nog ʼn rede is dat hulle vervolging vir die volksmoord in Darfoer en ander oorlogsmisdade vrees.
Die huidige chaos in Soedan is ʼn enorme terugslag vir demokrasie in dié land, stabiliteit in Oos-Afrika, maar ook vir die hele kontinent waar staatsgrepe, burgeroorloë en toenemend outokratiese regerings die afgelope paar jaar hoogty vier.
Agt miljoen mense in Soedan gaan tans gebuk onder voedseltekorte. Sou die huidige chaos verder uitbrei of selfs tot ʼn volskaalse burgeroorlog lei, sal dit net die uitdagings van Afrika en lande op dié kontinent se onvermoë om stabiele, demokratiese en skoon regerings te vestig, herbevestig.