Nuuskommentaar: 3 Maart 2023
Deur: Bennie van Zyl
Seer sekerlik die mees bespreekte onderwerp die afgelope paar maande bly die kragvoorsiening krisis wat ons oor tydperk heen in Suid-Afrika ervaar. Velerlei insette en standpunte word wyd gedeel, maar op die einde van die dag is die werklikheid nog steeds met ons. Daar is kommer dat daar heelwat tyd sprandeer word om die simptome van die probleem aan te spreek en te kyk hoe kan dit “bestuur” word. Indien daar nie by die oorsaak van die probleem uitgekom word en dit reggestel word nie sal al die insette en planne gemaak amper net die uitkoms kan gee van die reeds bekende vergelyking van die meublement word eintlik net op die dek van die Titanic rondgeskuif.
Die raaksien van ‘n wesentlike knelpunt om Suid-Afrika enigsins te laat werk is verskeie jare gelede reeds deur die Kragdagspan raakgesien en is daar ook iets daaraan gedoen. Vir etlike jare reeds word die Kragdag by Diamantvallei aangebied en is dit vanjaar ook uitgebrei na die Weskaap toe. Dit is waar alternatiewe geleenthede bekendgestel word aan die publiek.
Die swak voorsiening van elektrisiteit het soos ‘n stadige kanker Suid-Afrika al hoe meer lam gelê met die gevolg dat die seerkry in die ekonomie onaanvaarbare afmetings aangeneem het. Al hoe meer word besef dat die wyse hoe die misdaadsindikate binne Eskom op vele wyses voortgaan met hul plunderveldtogte en saam met onkundige kaderaanstellings die effektiwiteit van Eskom lam lê, daar na alternatiewe vir kragvoorsiening gekyk sal moet word.
Die beleidsomgewing wat deur die regering daargestel word van transformasie wat insluit SEB en kaderontplooiing het inderdaad alle instellings wat suksesvol ontvang was vanuit die vorige bedeling disfunksioneel gemaak. Daar kan inderdaad nie vandag na een van hierdie broodnodige instellings verwys word as suksesvol nie. Noem maar op Denel, SAL, Poskantoor, Spoorwee, Eskom en al die res. Geen ander rede as die impak van die ANC se beleid het hierdie gevolge teweeggebring.
Konstante kragvoorsiening is sekerlik een van die belangrikste aspekte om te verseker dat besighede ekonomies aktief kan wees. Vele kleiner besighede moes noodgedwonge hulle deure reeds sluit, terwyl ander tans in ‘n worstelstryd is om enigsins winsgewend te wees.
Landbou kan nie aanspraak maak dat dit belangriker is as ander besighede nie in die sin dat die hele waardeketting moet funksioneer. Indien die markte (koopkrag) in duie stort gaan beskikbare kos ook nie vir die boere ‘n inkomste kan bring nie. Wat wel besef moet word is dat kos op die tafel seker die grootste en belangrikste bydrae maak om anargie te verhoed en te help dat ‘n land gestabiliseer is.
Daar word daagliks al hoe meer besef dat dit fataal is om te wag vir die regering om met oplossings te kom. Selfdoen en self beplan het vandag ons werklikheid geword. Hoe verder enige plan en sy implementering van die staat af kan wees hoe groter kans is daar om wel volhoubare uitkomste te kan kry. Daarom is die hou van ‘n energiekonferensie deur Son SA gereël op 8 Maart met die ondersteuning van organisasies soos TLU SA en Saai van kardinale belang om alternatiewe bekend te stel.
Die sterkste boodskap wat elkeen moet saamneem vanuit die instansies wat hierdie nood raaksien soos die Kragdagspan en ook Son SA is dat ons al hoe meer op ons eie aangewese gaan wees in vele opsigte vir die pad vorentoe. Kragvoorsiening sal hoogs onwaarskynlik vorentoe stabiel verskaf word deur Eskom. Die oplossings wat oa deur die Staat aangebied word naamlik belastingkortings vir diegene wat van hernubare krag soos sonkrag gebruik gaan maak is inderdaad ‘n aanmoediging vir diegene wat ‘n betalende kliënt van Eskom is om eerder ‘n ander roete van kragvoorsiening te volg. Die noodwendige gevolg gaan wees dat die huidige betalende kliënte al hoe minder gaan raak deur selfvoorsienend te word en gaan Eskom uiteiendelik sit met diegene wat nie betaal nie. Die staat is inderdaad besig om Eskom se inkomste kraan te help toedraai.
Gaan Eskom nog enigsins in die toekoms die primêre kragvoorsiener wees is ‘n ope vraag. Die wyse hoe mnr Andre de Ruyter hanteer word deur juis die regering na hy die probleme geopenbaar het is ‘n duidelike bewys dat daar nie deur die regering of die Eskomraad op die werklike oorsaak van Eskom se probleme gefokus gaan word nie, maar dat daar eerder meubels rondgeskuif gaan word!
Suid-Afrika se inwoners moet vir ons toekoms besef dat Eskom dalk baie binnekort homself gaan posisioneer as die sekondêre kragvoorsiener van die land en indien ons wil besigheid doen en die ekonomie groei wat inderdaad al manier is om die land se erge probleme, grootliks geskep deur juis die regeringsbeleid, te kan oorbrug sal ons nou skouer aan die wiel moet sit en self oplossings vind – dit gaan gewis nie vanaf die staat kom nie.