21 Junie 2023
Die waarnemende hoof van die Tshwane-metropolisie, Basil Nkwashu sê meer as 50 metropolisielede sal binne die volgende twee maande afgedank word weens ondermeer bedrog en afpersing.
Nkwashu het gister op ’n sitting van die Gautengse wetgewer se portefeuljekomitee oor gemeenskapsveiligheid gesê dat intimidasie, afpersing en omkopery deur metropolisielede nie meer geduld sal word nie.
Hy sê sommige beamptes sal afgedank word omdat hulle veroordeelde misdadigers was toe hulle as beamptes aangestel is.
Hy sê na aanleiding van ’n aantal klagtes wat onlangs deur lede van die publiek teen Tshwane se metropolisie ingedien is, sal daar strenger prosesse ingestel word om te verseker dat diegene wat aansoek doen, bevoeg is.
Die VF Plus-raadslid en burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid in die Tshwane-metro, Grandi Theunissen sê intussen die inhegtenisneming van twee lede van die Tshwane-metropolisie wat hulle aan beweerde ongerymdhede skuldig gemaak het, moet dien as waarskuwing dat die metro korrupsie nie langer sal duld nie.
Die twee beamptes is in hegtenis geneem terwyl hulle sonder toestemming in ʼn privaat voertuig buite hul jurisdiksiegebied in Diepsloot, Johannesburg, diens gedoen het.
