Die kgosikgolo (koning) van die Bakgatla Ba Kgafela-kultuurgemeenskap bevind hom tans honderde kilometer van sy mense, uit vrees vir sy lewe.
Kgosikgolo Kgafela Kgafela II het in September 2024 na Kaapstad uitgewyk nadat sy huis afgebrand en een van sy vertrouelinge doodgeskiet is.
Wat die Bakgatla Ba Kgafela van ander Suider-Afrikaanse kultuurgemeenskappe onderskei, is dat hulle bevolking in beide Suid-Afrika en Botswana woonagtig is, maar steeds as een volk onder die kgosikgolo verenig is.
Tot en met die 1870’s was die hele volk in die Pilanesberg-omgewing woonagtig. Weens botsings met regeringsamptenare van die ZAR, is die koninklike familie en ’n groot deel van die gemeenskap genoop om uit te wyk na die Mochudi-gebied is in die destydse Betsjoeanaland (vandag Botswana).
Dié gemeenskap is vandag steeds tussen Suid-Afrika (Pilanesberg) en Botswana (Mochudi) versprei.
Tradisioneel is die koning (kgosikgolo) in Botswana gesetel met ’n kgosi (opperhoof), wat deur hom aangewys word en wat namens hom oor die gedeelte van die kultuurgemeenskap in Suid-Afrika regeer.
Die gemeenskap aan die Suid-Afrikaanse kant het oor ongerymdhede onder die leierskap van die aangewese kgosi, Nyalala Pilane, begin kla.
’n Forensiese ondersoek is deur kgosikgolo Kgafela Kgafela II laat doen, wat gelei het tot die vrywillige aftrede van Pilane.
Kgosikgolo Kgafela, wat die leisels ná sy pa (kgosikgolo Linchwe II) se afsterwe in 2007 oorgeneem het, voer egter aan dat Pilane deur die regering in die Noordwes-provinsie aan bewind gehou word, nadat Pilane sy aftrede teruggetrek het.
Kgosikgolo Kgafela Kgafela II het in 2012, op versoek van sy volgelinge, na Suid-Afrika gekom, maar sê dat die situasie in die tyd daarna onhoudbaar geword het.
Nadat een van sy vertrouelinge, Jomo Keromeng, doodgeskiet is en niemand weens die moord in hegtenis geneem is nie, het hy besluit om hom eerder in Kaapstad te vestig, aangesien die Wes-Kaap die enigste provinsie is wat nie deur die ANC regeer word nie.
“As iets hier met my gebeur, dan weet ek ten minste dat my dood ondersoek sal word.”
Kgosikgolo Kgafela Kgafela II sê hy sit nou sy werksaamhede voort deur middel van aanlyn vergaderings en videoboodskappe aan sy stam.
Intussen voer hy aan dat die wanbesteding van die Bakgatla Ba Kgafela se geld voortduur, en dat die miljoene rand waarvan vroeër nie rekenskap gegee kon word nie nou tot miljarde gegroei het.
Die Bakgatla Ba Kgafela-kultuurgemeenskap het onlangs ’n erkennings- en samewerkingsooreenkoms met AfriForum in Kaapstad onderteken.
AfriForum en die Bakgatla Ba Kgafela sê hulle sal saamwerk ter versterking van kulturele outonomie, gemeenskapselfstandigheid, landbou-ontwikkeling en die bewaring en versterking van kulturele identiteit.