Nuuskommentaar: 6 Julie
Deur: Jaco Kleynhans
Die Kommunistiese Party van China het verlede week sy honderdste bestaansjaar met opruiende toesprake, feesvieringe en vuurwerke herdenk. China is vandag een van die magtigste lande in die wêreld, met die tweede grootste ekonomie, die grootste bevolking en duidelike aspirasies om in Asië en die res van die wêreld sy invloed uit te brei.
Tydens verlede Donderdag se feesvieringe op die berugte Tiananmen-plein in Beijing het die sekretaris-generaal van die Chinese Kommunistiese Party, en president van China, Xi Jinping gesê dat sy land nie langer deur ander nasies geboelie sal word nie. Hy het verder gesê dat China se strewe om beheer van Taiwan ‘n sogenaamde ‘historiese missie’ is en dat teëstanders daarvan nie in China se pad moet staan nie.
Dit is in baie opsigte ironies dat Jinping juis sy toespraak op Tiananmen-plein gelewer het. Dié plein in Beijing dateer uit die vyftiende eeu en is van groot historiese belang in China. Sedert die Kommunistiese Party egter op gewelddadige wyse in 1949 die demokratiese regering uit China verdryf het, het die plein ‘n simbool van die kommuniste se onderdrukking en wreedheid geword. In 1989 is tot soveel as tienduisend betogers dood toe die Chinese regering opdrag gegee het dat hulle met geweld uit die plein verdryf moes word.
Dit was ook op die Tiananmen-plein waar Mao Zedong op 1 Oktober 1949 die Volksrepubliek van China geproklameer het, nadat die Chinese regering na die eiland Taiwan verdryf is. Onder Zedong se leierskap sou China ‘n totalitêre en kommunistiese eenpartystaat word wat oor die jare, en tot vandag, geen demokratiese bewegings, vrye meningsuiting of basiese individuele en groepsregte sou duld nie.
Die honderdjarige viering van die oprigting van die Kommunistiese Party van China is om twee redes vir ons almal van groot belang. Eerstens is dit toenemend duidelik dat demokratiese lande, veral in die Weste, begin saamstaan teen China se onderdrukking van minderhede, China se inmenging en aggressiewe optrede in Hong Kong en Taiwan en China se toenemende bevegting van demokrasie in Asië en selfs ander wêrelddele. Die onlangse G7-beraad en die beraad van Navo-lidlande, sowel as die formele samewerking tussen die VSA, Australië, Japan en Indië bevestig dit. Dit is duidelik dat die Chinese regering ernstig gefrustreerd met hierdie mobilisering van steun teen sy totalitêre optrede is.
Tweedens raak dit egter toenemend duidelik dat China wesenlike binnelandse uitdagings het wat in die toekoms eerder groter as kleiner gaan raak. Die Kommunistiese Party probeer die mag oor, en steun van die Chinese bevolking behou deur die aanblaas van nasionalistiese retoriek en ‘n sterk fokus op die ekonomiese sukses van China die afgelope drie dekades. Die werklikheid is egter dat die Chinese bevolking ‘n ernstige demografiese uitdaging met veroudering in die gesig staar. Verder moet die regering deur vrees beheer oor die bevolking behou en enige teenspraak onderdruk.