17 Januarie 2022
Die Kommissie vir Geslagsgelykheid het ‘n beroep op die regering gedoen om nié Covid-19-inentings verpligtend te maak nie.
Alhoewel die regering nog geen inentings verplig het nie, is daar wel maatskappy en universiteite wat luidens sy eie beleid mense verplig om vir die inenting te gaan. Die kommissie se uitlating kom weens sy kommernis oor nuwe inligting oor die moontlike uitwerking van die inenting op ‘n vrou se menstruele siklus.
Luidens ‘n verslag deur die kommissie vervang verpligte inentings nie die Grondwet nie en daarom het vroue steeds die reg om self te besluit oor voorplanting asook die reg om belangrike besluite oor hulle liggame self te neem.
Die kommissie se woordvoerder, Javu Baloyi sê luidens ‘n studie kan die inenting die lengte van vroue se siklus verander.
Die waarskuwing kom nadat ‘n navorsingsverslag in die Amerikaanse vaktydskrif, Obstetrics & Gynecology gepubliseer is na aanleiding van navorsing oor die Covid-19-entstof se uitwerking op vroue se menstruele siklus. Luidens die navorsing is vroue wat ingeënt is se siklus een dag langer as dié vroue wat nog nie ingeënt is nie.