Nuuskommentaar: 7 Februarie 2022
Deur: Flip Buys
Die Antieke Egiptenare het al 4600 jaar gelede indrukwekkende Piramides gebou wat vandag nog as wonderwerke beskou word. Die mensdom staan steeds verstom oor die hoë vlakke van ingenieurswese, argitektuur, wiskunde, wetenskap en logistiek wat hierdie Piramides moontlik gemaak het. Daarbenewens het bouwerk van daardie omvang gevorderde vorme van staatkundige organisasie, ekonomiese ontwikkeling, bestuur- en organisasie, en gelettererdheid en opleiding geverg.
Argeoloë sê vandag dat die antieke Egiptenare die Piramides gebou het. Maar in werklikheid het die Piramides terselfdertyd die Egiptenare as hoogs ontwikkelde beskawing gebou. Daarmee word bedoel dat die eeuelange bouwerk aan Piramides en ander infrastruktuur wat ‘n beskawing nodig het, ook die Egiptenare as kultuur en beskawing gebou het. Bouwerk van daardie omvang vereis immers ‘n gevorderde beskawing wat in staat is om groot gesamentlike projekte aan te pak, die hulpbronne daarvoor te monster, doeltreffend te beplan en organiseer, en wat oor die leierskap en kundigheid beskik om dit suksesvol uit te voer.
‘n Volk, Kultuur of Beskawing se vlakke van ontwikkeling word eeue later steeds gemeet aan die bouwerk wat hulle tot stand gebring het. Ons kan onsself nie die Antieke Egiptenare, Romeine en Grieke indink sonder hulle bouwerk nie. Die Romeine se kultuur en vlakke van beskawing is vandag steeds duidelik as gekyk word na hulle bouwerk wat vandag steeds bestaan. Maar hierdie bouwerke het ook betrokke beskawings gebou, omdat dit die uitleef, uitdra en oordrag van hulle kulture moontlik gemaak het. Winston Churhill het immers gesê dat ons eers ons geboue vorm, en daarna vorm ons geboue ons.
Die Afrikanerkultuur kan ook nie weg van sy bouwerk ingedink word nie. President Paul Kruger was nie net ‘n staatsbouer nie, maar ook ‘n stadsbouer. Hy het ‘n groot rol gespeel om Pretoria vanaf ‘n stowwerige dorpie na ‘n hoofstad uit te bou. Dink maar aan die Ou Raadsaal, Paleis van Justisie, en die Forte rondom Pretoria. Geboue is in werklikheid die kulturele infrastruktuur van ‘n volk. Dit “bou” die volk deurdat die Raadsaal die kern van die staatkundige Republiek was, en die Paleis van Justisie die sentrum van die Regsorde was.
Afrikaners het later jare ‘n landvol geboue opgerig wat ook ons as ‘n Kultuur gebou het. Dink aan die geboue wat vir opvoedkundige, ekonomiese, kulturele, mediese, militêre en ander doeleindes gebou is.
Afrikaners is vandag met rede bekommerd oor die toekoms. Maar die vraag kan gevra word hoeveel bou ons nog vandag, behalwe huise en inkopiesentrums? Is die probleem nie dat ons moed verloor oor alles wat die ANC afbreek, maar dat ons nie as gemeenskap meer bou nie? Afrikaners voel nie meer tuis in die land nie, want ons het nie meer genoeg plekke waar ons tuisvoel nie. Die oplossing vir ‘n kultuur wat wil leef is om weer te begin bou aan die kulturele infrastruktuur wat vir voortbestaan nodig is. Daardie bouwerk sal dan terselfdertyd ons as Afrikanerkultuur weer bou. Dan het ons niks te vrees vir die toekoms nie.